Gaan na inhoud

Reykjavik: Verskil tussen weergawes

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Geskrapte inhoud Bygevoegde inhoud
Anrie (besprekings | bydraes)
k Die 20ste eeu: klein bietjie versorging: skakel na Michail Gorbatsjof
Voyageur (besprekings | bydraes)
k Bronne: Skakel gewysig
Lyn 305: Lyn 305:
* [http://www.nat.is/travelguideeng/plofin_domkirkjan.htm Nordic Adventure Travel]
* [http://www.nat.is/travelguideeng/plofin_domkirkjan.htm Nordic Adventure Travel]
;;Sekulêre boukuns
;;Sekulêre boukuns
* [http://www.visitreykjavik.is/displayer.asp?cat_id=430 Visit Reykjavik: ''Hofdi House'']
* [http://www.visitreykjavik.is/desktopdefault.aspx/tabid-17/12_view-62/ Visit Reykjavik: ''Hofdi House'']
* [http://www.visitreykjavik.is/displayer.asp?cat_id=223 Visit Reykjavik: ''The Pearl'']
* [http://www.visitreykjavik.is/displayer.asp?cat_id=223 Visit Reykjavik: ''The Pearl'']



Wysiging soos op 18:59, 27 Desember 2007

Reykjavik

Kaart Wapen
Vlag
 Land Ysland
 Gewes Höfuðborgarsvæðið
 Koördinate 64°08' N, 21°56' W
 Stigting 1786
 Oppervlak:  
 - Totaal 274,5 vk km
 Hoogte bo seevlak 0 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Oktober 2007) 117 607
 - Bevolkingsdigtheid 429/vk km
 - Metropolitaanse gebied 195 301
 Tydsone UTC +0
 Klimaat  
 - Tipe Polêre seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 4,4 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie -0,5 / 10,6 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslag 800 mm
 Burgemeester Dagur B. Eggertsson
 Amptelike Webwerf www.rvk.is

Reykjavik [ˈreiːcaˌviːk] (Yslands: Reykjavík, letterlik "Rookbaai") is die hoofstad van Ysland - en ook die wêreld se mees noordelik geleë hoofstad: Sy breedtegraad lê teen 64° 08' Noord net effens suid van die Noordpoolsirkel (66° 33'). Die stad met meer as 117 000 inwoners lê aan die voet van die bergspits Esja met 'n hoogte van 900 meter en aan die suidoewer van die Faxaflóibaai, wat deel uitmaak van die Atlantiese Oseaan, en fungeer as die administratiewe, kulturele en ekonomiese sentrum van Ysland. Reykjavik huisves die meeste departemente van die Universiteit van Ysland en verskeie ander tersiêre instellings, teaters, museums en ander kulturele instellings. Die stad beskik daarnaas oor Ysland se belangrikste seehawe.

Die eiland Viðey en die bergspits Esja, soos gesien vanuit Reykjavik.

Daar word aangeneem dat Reykjavik die plek van die eerste menslike nedersetting in Ysland is wat na historiese oorlewerings in 870 deur Ingólfur Arnarson gestig is. Tot by die 18de eeu was daar in die gebied egter geen stedelike ontwikkeling nie. Die huidige stad het eers in 1786 as 'n amptelike handelspos ontstaan en het in die volgende dekades stadig gegroei om eers tot 'n gewestelike en later ook nasionale handelsentrum te ontwikkel.

Reykjavik vorm vandag die sentrum van Groter Reykjavik, 'n metropolitaanse gebied met 'n bevolking van meer as 200 000 mense. Dit is die grootste stad van Ysland en huisves sowat 37,5 persent van die land se totale bevolking. Reykjavik se inwoners trek voordeel uit die stad se moderne infrastruktuur en Ysland se eersterangse welvaartstelsel.

As gevolg van sy ligging net suid van die Noordpoolsirkel kry Reykjavik gedurende midwinter slegs vier ure se daglig per dag, terwyl die nagte in midsomer byna so helder soos die dae bly.

Reykjavik se Yslandse naam verwys vermoedelik na die stoomwolke wat by die warmwaterbronne in die omgewing opstyg en gaan moontlik terug op 'n vergissing van die eerste setlaar, Ingólfur Arnarson.

Geografie

Reykjavik lê op die skiereiland Reykjanesskagi in die suidweste van die eilandstaat Ysland, alhoewel die voorstede reeds verder oos- en suidwaarts uitgebrei het. Die landskapsvorme van Reykjavik se omgewing word deur skiereilande, inhamme, seestrate en eilande gekenmerk. Reykjavik beslaan danksy sy minder digbevolkte voorstede met ruim vrystaande gesinshuise 'n relatief groot oppervlakte.

Die Elliðaárivier naby Reykjavik.

10 000 gelede het die laaste glasiaal, 'n besonders koue periode van 'n ystydperk, van die huidige ystydperk geëindig. Tydens die glasiaal het 'n groot gletser groot dele van die stadsgebied bedek, terwyl ander dele nog met seewater oorstroom was. In die warmer periodes teen die einde van die glasiaal was sommige bergspitse soos Öskjuhlíð nog eilande. Die vroeëre seevlak word deur afsaksels met mossels gekenmerk wat (soos naby Öskjuhlíð) tot 43 meter bo die huidige seevlak verrys. Bergspitse soos Öskjuhlíð en Skólavörðuholt is blykbaar oorblyfsels van vroeëre skildvulkane wat tydens die warmer periodes van die ystydperk nog aktief was.

Ná die glasiaal het die swaar gletsers begin afsmelt en die landmassa in die gebied het verrys en sy huidige gestalte gekry. Die hoofstadgebied is egter nog steeds deur aardbewings en vulkaanuitbarstings geskud. Tydens een van hierdie vulkaanuitbarstings het lawa deur die Elliðaárvallei tot by die Elliðavogurbaai gevloei. Die verskuiwing van tektoniese plate wat dwarsdeur Ysland loop, raak ook die skiereiland Reykjanesskagi met kleiner aardbewings.

Die Elliðaá is die grootste rivier wat deur Reykjavik vloei. Alhoewel die rivier nie bevaarbaar is nie word dit nogtans as een van die beste Yslandse riviere vir salmhengelaars beskou word. Tjörnin, 'n klein meer in die stadsentrum, is een van die belangrikste broeiplekke vir watervoëls in die suidweste van Ysland.

Klimaat

Die berg Esja in die winter

Reykjavik word gekenmerk deur 'n polêre seeklimaat met relatief milde winters en koel somers gekenmerk, en oor die seisoene heen is daar min wisseling ten opsigte van die hoeveelheid neerslag. Ondanks sy ligging in die Noord-Atlantiese Oseaan is Reykjavik se temperature vanweë die matigende invloed van die Golfstroom op Ysland se kusgebiede nie laer as dié van byvoorbeeld Toronto of New York nie. Die absolute uiterste temperature beweeg op 'n skaal tussen sowat -17 °C en +24 °C; die kwik styg egter selde bo 20 °C. As gevolg van sy ligging aan die kus is Reykjavik dikwels aan stormweer blootgestel. Daar word jaarliks sowat 1250 sonskynure en 210 reëndae aangeteken.

Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Gem. maksimum 1,9°C 2,8°C 3,2°C 5,7°C 9,4°C 11,7°C 13,3°C 10,1°C 11°C 6,8°C 3,4°C 2,2°C 6,8°C
Gem. minimum -3°C -2,1°C -2°C 0,4°C 3,6°C 6,7°C 8,3°C 7,9°C 5,0°C 2,2°C -1,3°C -2,8°C 1,9°C
Neerslag 75,6mm 71,8mm 81,8mm 58,3mm 43,8mm 50mm 51,8mm 61,8mm 66,5mm 85,6mm 72,5mm 78,7mm 798,2mm

Bron: World Meteorological Organization, in samewerking met die Icelandic Meteorological Office

Geskiedenis

Die stigting van Reykjavik

Lêer:Vikingship 07252003.jpg
Jon Gunnar Arnason se skulptuur Sólfar ("Sonvaarder") het ter herdenking van die eerste Wiking-setlaars ontstaan

Die kolonisasie van Ysland deur Noorse setlaars het sy aanvang in die 9de eeu geneem. In die tradisionele geskiedskrywing en historiese dokumente wat bewaar gebly het, word na Ingólfur Arnarson as die eerste permanente inwoner van Reykjavik verwys - hy het hom omtrent 870 n.C. in die gebied gevestig en by die huidige Hoofstraat 'n uitgestrekte boerdery opgerig.

'n Velmanuskrip uit die Landnámabók wat die Noorse kolonisasie van Ysland in die 9de en 10de eeu beskryf

Vanweë die beskikbaarheid van moerasyster, turf (wat as brandstof gedien het), dryfhout en eiers van seevoëls wat maklik op die strande opgetel kon word, die akkergrond op die nabygeleë eilande, die warmwaterbronne en weivelde van die omgewing en die ryk visgronde langs die kus en riviere wat van salms gewemel het, was die baai van Reykjavik 'n uiters geskikte plek vir die stigting van 'n landgoed. Vis was dan ook die eerste setlaars se stapelvoedsel.

Die manlike nakomelinge van Ingólfur en sy vrou Hallveig het vanweë hul status as nasate van die eerste setlaar-egpaar as 'n soort religieuse en wêreldlike leiers (Yslands Allsherjargoði) gefungeer. Hulle het onder meer in 930 'n belangrike rol by die die stigting van die eerste parlement, die Alþingi, in Þingvellir gespeel. Ingólfur en Hallveig se kleinseun Þorkell máni het as Wetspreker of hoogste amptenaar van die parlement gedien, en sy seun Þormóður het later, toe die Yslanders die Christelike geloof in omtrent 1000 aangeneem het, as Allsherjargoði gefungeer.

Arnarson het aanvanklik vermoedelik 'n waaksame ogie oor sy uitgestrekte landgoed gehou en gehoop om self te bepaal watter setlaars hulle in sy invloedsfeer in die suidweste van Ysland mog vestig.[1] Die oppervlakte van sy landgoed het egter geleidelik afgeneem, vermoedelik omdat die land onder sy erfgename verdeel is. In elk geval het naby Seltjarsnes nuwe landgoedere ontstaan wat ten opsigte van hulle oppervlakte met Reykjavik kon meeding.

Ná die jaar 1000 het wolprodukte tot Ysland se belangrikste uitvoergoedere ontwikkel en Reykjavik, wat slegs op vissery as sy bron van inkomste kon steun, het sy ekonomiese belangrikheid geleidelik kwytgeraak.

Landbou en kloosterlewe

Ysland pronk met een van die oudste wetgewende vergaderings in Europa. Op hierdie rots naby die Almanagjá-kloof is tradisioneel besluite oor wette geneem.

In die tydperk tussen 1200 en 1750 was daar net 'n aantal kleiner en groter boerderye in die huidige hoofstadgebied. Die baai, wat dikwels net Vík genoem is, was die tuiste van boere en veetelers. Vroeë bronne uit hierdie periode bevat min inligting oor hierdie boerderygemeenskappe, en eers in die laat Middeleeue het die bewoners volgens historiese dokumente as welvarende landeienaars, distrikhoofde en parlementslede bekend gestaan. Die eerste kerkgebou in die gebied het omtrent of selfs voor 1200 ontstaan.

Die Augustyne-klooster, wat in 1226 op die eiland Viðey gestig is, het tot een van Ysland se welvarendste kerklike instellings gegroei. Die klooster, wat aan die Jonkvrou Maria gewy is, het oor 'n beduidende biblioteek beskik en was 'n belangrike literêre sentrum waar talle boeke geskryf is. In die laat Middeleeue het die klooster ook tot 'n bedevaartsentrum ontwikkel.

Die suidelike gedeelte van Faxaflóibaai in die suidweste het tot die politieke en handelsentrum begin ontwikkel; in hierdie gebied het ook die klooster, kerk en koning oor landgoedere beskik. Die koninklike goewerneur se amptelike setel is op die landgoed Bessastaðir gevestig.

Die Reformasie in Denemarke het ook die Deense besitting Ysland geraak en die klooster is op Pinkstersondag 1539 deur die plaaslike verteenwoordiger van die Deense koning, Didrik von Minden, gekonfiskeer. Sy manne het die klooster geplunder en die monnike aangeval. Met die voltooiing van die Reformasie in Ysland is die klooster in 1550 ontbind en sy besittings aan die Deense koning oorgedra.

Ná die afsterwe van die laaste onafhanklike landeienaar in Reykjavik in die vroeë 17de eeu is die landgoed deur die Deense Kroon aangekoop.

Ekonomiese groei tussen 1750 en 1800

Reykjavik met die Faxaflóibaai in die agtergrond.

Met die opkoms van die ekonomiese ideologie van die merkantilisme in Europa het heersers die ekonomiese groei in hulle gebiede deur die opbou van plaaslike nywerhede en ander ondernemings begin bevorder. In Ysland het die Deense owerhede die sogenaamde Innréttingar ('n Yslandse leenvertaling van die Deense Indretninger of "ondernemings") in die lewe geroep, aan wie ook die landgoedere in Reykjavik en Örfirisey oorgedra is. Die oprigting van 'n plaaslike wolbedryf het ook aan die beginpunt van Reykjavik se ontwikkeling tot 'n dorp gestaan.

Deense en Duitse ambagsmanne is genooi om Yslanders op te lei en die Innréttingar het vinnig oor opgeleide inheemse mannekrag beskik. Uiteindelik was hierdie instellings daarop gemik om 'n breed-gebaseerde ekonomiese opswaai in Ysland aan te spoor. Die visserybedryf, skeepsbou, landbou en swawelontginning in plaaslike myne was die eerste sektore wat danksy hierdie beleid beduidende vordering gemaak het. In Reykjavik het veral fabrieke vir die wolverwerking en wewerye ontstaan wat met ingevoerde spinwiele en weefstoele toegerus is. Ander belangrike nywerhede was die vervaardiging van toue en kuipe en looierye. Ná die jaar 1767 het die Innréttingar 'n ekonomiese agteruitgang ervaar, en slegs die wolbedryf het nog tot in die 19de eeu goed presteer.

Die 19de eeu

Die Alþingishúsið, Ysland se parlementsgebou

Op 18 Augustus 1786 het die Deense koning die bestaande handelsmonopolie afgeskaf en op 17 November is eksklusiewe handelsregte aan ses gemeenskappe toegeken. Handelsregte was nogtans beperk tot onderdane van die Deense koning, sodat die plaaslike handel nog steeds deur Deense sakemanne oorheers is. Enkele jare later het 'n klein aantal Deense en Noorse handelaars hul sakegeboue in Reykjavik opgerig. Hul Yslandse ondernemings was merendeels filiaalmaatskappye wat met behulp van plaaslike bestuurders vanuit die hoofkantore in Denemarke en Noorweë bestuur is.

Naas handelaars, agente en vakarbeiders was ook ambagsmanne daarop geregtig om hulle as vryburgers in Reykjavik te vestig. Die stad het vinnig spesialiste uit 'n groot aantal beroepsvelde gelok. Die tradisionele ruilhandel is egter eers in die laat 19de eeu deur 'n moderne geldekonomie vervang.

'n Ander belangrike gebeurtenis in die ekonomiese geskiedenis van Ysland was die invoering van vryehandel vir burgers van alle nasionaliteite in 1855. In die laaste twee dekades van die 19de eeu was gevolglik steeds meer handelsgoedere en dienste beskikbaar. Yslandse handelaars het 'n steeds belangriker rol begin speel en nuwe handelsbetrekkinge is met Noorweë en die Verenigde Koninkryk aangeknoop.

Die feesvieringe in 1874 ter geleentheid van die eerste millennium van die Noorse kolonisasie was 'n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Reykjavik. Die infrastruktuur, veral paaie, is opgeknap en uitgebou en die stad het kort daarna ook sy eerste straatverligting gekry. In 1881 is die parlementsgebou op die nuwe stadsplein opgerig. Die inwoners het nou baie trots gevoel op hul nasionale erfenis en by 'n groeiende aantal sosiale en kulturele aktiwiteite betrokke geraak. Ook die aantal plaaslike publikasies het vinnig toegeneem. Die nasionale trots het sy stempel ook op die plaaslike argitektuur afgedruk. Welvarende burgers het vir hulle indrukwekkende huise in die Neo-klassieke styl laat bou, terwyl landlose werkers hul tradisionele turfhuise met steengeboue vervang het.

Die 20ste eeu

Stjórnarráðið, die Yslandse regeringsgebou in Reykjavik.

Die wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang van die laat 19de en vroeë 20ste eeu het ook die Yslandse ekonomie geraak. Reeds in 1897 is die eerste masjiene met keroseenenjins ingevoer, terwyl die visserybedryf in toenemende mate op gemotoriseerde en stoomaangedrewe bote gesteun het. Die bevolking van Reykjavik was in 1901 egter nog steeds net sowat 5000 mense.[2]

Die 20ste eeu het ook verreikende politieke veranderings meegebring. In 1904 het Ysland 'n outonome gebied geword met 'n eie minister wat aan die parlement verantwoordelik was en die eerste regeringsgeboue is in Reykjavik opgerig. Die stad het nou amptelik Kopenhagen as hoofstad van Ysland vervang. In 1918 het Ysland 'n selfregerende gebied onder die Deense Kroon geword.

Die oorspronklik landelike bevolking het met die diepgrypende ekonomiese en politieke veranderings 'n verstedelikingsproses ondergaan wat van Reykjavik die grootste stad in die land gemaak het en waar uiteindelik sowat 'n derde van die Yslandse bevolking gekonsentreer was.

Die industrialisasie en groeiende bevolkingsyfers het nuwe politieke instellings en 'n moderne infrastruktuur noodsaaklik gemaak. In 1908 is vir die eerste keer naas die stadsraad ook die amp van burgemeester ingevoer, en in die volgende jaar is met die watervoorsiening die eerste infrastruktuurprojek aangepak. 'n Dreinering- en rioolstelsel was deel van hierdie projek. Die plaaslike gasaanleg, wat in 1910 ingewy is, was Reykjavik se eerste kragsentrale. Die Elliðaár-waterkragsentrale het in 1921 gevolg.

Die geotermiese kragsentrale Nesjavellir naby Reykjavik.

In 1912 was Austurstræti Reykjavik se eerste straat wat 'n teerblad gekry het en die eerste sypaadjies is aangelê. Nogtans was Reykjavik-hawe, wat in die tydperk tussen 1913 en 1917 gebou is, die stadsraad se grootste projek in die vroeë 20ste eeu. Hierdie hawe was in die tydperk tussen die twee wêreldoorloë die tuishawe van die meeste Yslandse treilers, en die vangste is merendeels plaaslik verwerk as soutvis. Ná die elektrifisering van visseryfabrieke in die vroeë 1920's was die grootskaalse uitvoer van bevrore vis na die Verenigde Koninkryk die tweede beduidende tegniese vernuwing in die visserybedryf. Vangste is nou oorwegend in dié land verkoop

Geotermiese energie is vanaf 1930 vir verwarmingdoeleindes ingespan; warm water uit die bronne in Laugardalur, wat tot dusver eeue lank net gebruik is om wasgoed skoon te maak, is nou met pypleidings na Reykjavik vervoer. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die meeste huishoudings in die stad al oor geotermiese verwarming beskik.

Motorvoertuie is eers ná die jaar 1913 in groter hoeveelhede ingevoer, alhoewel daar tot by die Tweede Wêreldoorlog oorwegend kommersiële voertuie soos huur- en vragmotors was. Reykjavik se busmaatskappy is in 1931 as 'n privaat onderneming gestig.

In die lente van 1940 is Ysland deur Britse troepe beset: na die Duitse besetting van Denemarke op 9 April van daardie jaar het Brittanje neutrale Ysland vreedsaam beset in 'n poging om dit van die Duitsers te weerhou. Tot aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was byna net soveel soldate as burgerlikes in die stad. In 1941 het die Verenigde State die militêre beskerming van Ysland waargeneem. Die besetting deur buitelandse troepe het 'n groot aantal nuwe werkgeleenthede aan die plaaslike bevolking verskaf en die invoer van nuwe tegnologieë bevorder.

Die spitsberaad van supermoondhede in 1986, waaraan die Sowjet-leier Michail Gorbatsjof en die Amerikaanse president Ronald Reagan deelgeneem het, het in Reykjavik se Höfði-huis plaasgevind.

In die jare ná die oorlog was Reykjavik in vergelyking met ander Europese hoofstede nog steeds eerder 'n groot dorp as 'n moderne metropool, maar as gevolg van van die binnelandse migrasie het talle jongmense hulle in die stad gevestig. Ysland was in hierdie tydperk steeds 'n baie geïsoleerde land waaraan min buitelandse toeriste 'n besoek afgelê het. Desondanks het die modernisme uiteindelik ook in Ysland posgevat. In 1950 is die Nasionale Teater in Reykjavik geopen en die Yslandse Simfonieorkes gestig.

Die sestigerjare was 'n periode van ongekende groei. Steeds meer inwoners het oor hul eie motors beskik en as vakansiegangers na bestemmings in Suid-Europa gevlieg. Die Yslandse lugredry Loftleiðir het Transatlantiese vlugverbindings met tussenlandings in Ysland aangebied en sodoende buitelandse toeriste gelok. Ysland se isolasie was nou iets van die verlede, en die eerste internasionale hotelle is opgerig.

Ook Reykjavik se kulturele lewe is bevorder. Kunsfeeste is vanaf 1970 jaarliks gehou, en steeds meer internasionaal bekende kunstenaars het in Ysland opgetree. Die spyskaarte in plaaslike restourante is met spesialiteite van ander kookkunste verryk, en in die 1990's is 'n einde aan die prohibisie gemaak wat sedert die vroeë 20ste eeu selfs 'n verbod op die bediening van bier geplaas het. Die middestad van Reykjavik pronk nou met 'n groot aantal kroeë en ander vermaaklikhede.

Reykjavik se internasionale status is met die spitsberaad van supermoondhede in 1986 bevestig wat in die plaaslike Höfði-huis gehou is. Hierdie ontmoeting tussen die Amerikaanse en Sowjet-leiers het die einde van die Koue Oorlog ingelui. Die plaaslike musiekbedryf het met internasionale popsterre soos Björk en Sigur Rós bekendheid verwerf. Reykjavik is daarnaas as een van nege Europese kulturele hoofstede van die jaar 2000 aangewys.

Sedert die 1990's het Reykjavik - wat vroeër eerder as 'n vervoersentrum beskou is - met sy skitterende naglewe en eersterangse ontwerpersboetieke steeds meer buitelandse toeriste begin lok. Die uitbundigheid, waarmee Yslandse jongmense hul lewe geniet, en lae pryse vir sommige modeartikels het moontlik tot hierdie gewildheid bygedra, net soos die spitsberaad van 1986 en die daarmee gepaardgaande publisiteit, asook die plaaslike musieklewe. Ongelukkig kom alkohol- en dwelmmisbruik net soos (meestal kleinskaalse) misdaad tans ook soms in Reykjavik voor. Desondanks word Reykjavik by die veiligste stede ter wêreld gereken.[3]

Argitektuur

Yslandse boukuns

Lêer:Ráðhús Reykjavíkur.jpg
Ráðhús Reykjavíkur, die raadsaal van Reykjavik.

Die Yslandse boukuns se kenmerkende karakter, wat duidelik van dié van ander Europese gebiede verskil, is te danke aan die tekort aan tradisionele boumateriale. Leem vir die vervaardiging van bakstene is net so skaars soos hout, en eeue lank is vooraf-vervaardigde bouelemente en houthuise uit Noorweë ingevoer. Die oudste houthuise van Noorse oorsprong dateer uit die laat 18de eeu.[4] Vooraf-vervaardigde Noorse houthuise in die Switserse chalet-styl het dan ook 'n groot invloed op die Yslandse boukuns uitgeoefen. Yslandse boumeesters het selfs die katalogusse van die Noorse Strømmen trævarefabrik (Strømmen-houtfabriek wat vooraf-vervaardigde huise aangebied het) uit die tydperk tussen 1884 en 1929 om volgens die afbeeldings van houthuise, bouelemente en versierings hul eie boustyl te skep.

Eers met die opkoms van beton was 'n goedkoop nuwe boutegnologie besikbaar sodat moderne geboue uit inheemse boumateriale opgerig kon word. Ysland se woonbuurte in die Internasionale Styl van die 1930's en 1940's was 'n geslaagde poging om 'n tipies inheemse, selfstandige karakter aan die boustyl van die modernisme te gee.

Yslandse motiewe soos die jaargetye, lig, water en massiwiteit vind ook in die moderne boukuns neerslag. Een van die uitstekendste voorbeelde van die moderne Yslandse argitektuur is die Raadsaal van Reykjavik, wat deur die Brits-Yslandse ateljee Studio Granda ontwerp en in 1992 voltooi is.

Stadskarakter

Hallgrímskirkja in die winter. In die agtergrond is die kenmerkende "maanlandskap" van Reykjavik se omgewing sigbaar.

Die eerste setlaar Ingólfur Arnarson se plaashuis het in die Kvosin-vlakte tussen die huidige hawe en die Tjörninmeer ontstaan, en destyds was stene en turf die hoofsaaklike boumateriale. Die huidige straat Aðalstræti was oorspronklik 'n paadjie wat die landgoed met die see verbind het.

Met die vestiging van die wolbedryf het omtrent 1752 die eerste geboue langs Aðalstræti ontstaan wat nie deel uitgemaak het van Arnarson se oorspronklike landgoed nie. Met die verskuiwing van die biskopsetel van Skálholt na Reykjavik in 1785 het die dorp tot 'n geestelike sentrum ontwikkel en net een jaar later ook stadstatus gekry.

Die dorpie Grjótaðorp, wat uit die plaas Grjóti wes van Aðalstræti ontwikkel het, is in 1806 by Reykjavik ingesluit. Teen die middel van die 19de eeu was die stad reeds die administratiewe, opvoedkundige, kulturele en handelsentrum van Ysland. Een van die grootste destydse paaie was Laugarvegur, wat Reykjavik met die warmwaterbronne van Laugardalur verbind het - Reykjavik se natuurlike geotermiese "waskamer". Teen die einde van die 19de eeu het Reykjavik egter nog steeds slegs uit 99 geboue bestaan.[5]

Lêer:Iceland Reykjavik 4234.JPG
Woonstelblokke in Skúlagata

Reykjavik het vanuit Krosin en langs die straat Vesturgata begin uitbrei. Ysland se nuwe status as selfregerende gebied vanaf 1904 het die oprigting van nuwe kulturele en opvoedkundige geboue noodsaaklik gemaak. Moderne stadsbeplanning het in 1927 'n aanvang geneem, en die Yslandse staatsargitek Guðjón Samúelsson het die eerste ruimtelike ontwikkelingsraamwerk saamgestel wat voorsiening gemaak het vir 'n nuwe stadsentrum met 'n aantal kulturele bouprojekte. Hierdie planne is egter later weer verwerp, en in plaas van die beplande sitadel het in 1945 die boubedrywighede vir die Hallgrímskerk (Yslands: Hallgrímskirkja) begin.

Die stadswyke Norðurmýri en Melar is deur die stadsargitek Einar Sveinsson volgens funksionalistiese beginsels ontwerp. Reykjavik se argitektuur is dan ook tot by die middel van die 1950's deur dig beboude buurte met lae geboue, 'n kleiner aantal woonstelblokke met tot by vier verdiepings en kleiner gesinshuise oorheers.

Die eerste groot woonstelblokke met tussen agt en twaalf verdiepings het in 1955 in die Heimar-buurt ontstaan. Nogtans het die Deense stadsbeplanner Peter Bredsdorff in 1960 vir 'n beperking tot maksimaal drie verdiepings gepleit, en sy voorstel is by die ontwerp van die nuwe stadsbuurte Árbær, Breiðholt en Fossvogur tot by die vroeë sewentigerjare in ag geneem. Intussen word die stadsentrum in toenemende mate deur moderne boukuns oorheers, en groter gebouekomplekse soos die winkelsentrum Kringlan (1987) het ontstaan.

Net soos in baie ander Europese stede het bewoners hulle in die 1970's teen die sloping van historiese geboue in die stadsentrum verset. Reykjavik se nuwe stadsbuurte soos Grafarholt en Borgarholt het gevolglik langs die kus uitgebrei, alhoewel die stad volgens die amptelike beplanning in die toekoms ook weer landinwaarts sal groei.

Sakrale boukuns

Hallgrímskirkja in die winter
Dómkirkja

Hallgrímskirkja, wat op 'n klein heuwel aan die beginpunt van die winkelstraat Skolavordustigur lê, is die bekendste baken van Reykjavik. Die kerk is van beton gebou en in 1943 deur die voormalige staatsargitek Guðjón Samúelsson ontwerp. Die gebou is ná meer as veertig jaar se boubedrywighede in 1986 voltooi en vernoem na die beroemde Yslandse digter en Evangeliese priester Hallgrímur Pétursson (1614-1674).

Hallgrímskirkja is die grootste kerkgebou in Ysland, en sy toring met 'n hoogte van 73 meter het 'n onmisbare deel van Reykjavik se stadshorison geword. Dit beskik oor 'n hysbak wat besoekers na die spits neem en bied 'n pragtige uitsig oor die stad. Sy argitektuur versinnebeeld 'n tipiese verskynsel van Ysland se landskap, vulkaniese basaltsteenformasies. Die binneruimte bekoor met sy helderheid en Gotiese stylelemente. Die kerkvensters van deurskynende glas agter die hoofaltaar bied 'n ongewone uitsig oor die hemel en wolke bo-oor Reykjavik.

Voor die kerk is 'n standbeeld ter herdenking van die Yslands-gebore Leifur Eiriksson opgerig, die eerste Europeër wat omtrent 1000 die Amerikaanse vasteland ontdek het.

Die Neo-klassieke Evangelies-Lutherse katedraal Dómkirkja is een van die oudste geboue in Reykjavik. Toe die Yslandse biskopsetel vanuit Skálholt na Reykjavik verskuif is en die eiland Ysland 'n bisdom geword het, was dit uiteindelik noodaaklik om 'n nuwe katedraal in die stad op te rig. In die winter van 1788 is stene op die bouterrein opgehoop om voldoende boumateriaal vir die boubedrywighede in die somer te verkry. 'n Groep van Deense ambagsmanne is vir die projek aangestel, maar aangesien hulle dikwels dronk was het die bouprojek slegs baie stadig gevorder.

Ondanks alle moeilikhede is die kerkgebou in 1796 voltooi en ingewy. Destyds het die katedraal nog sitplekke vir die hele stadsbevolking gebied. Ongelukkig het die kerkdak gelek, en die gebou was so klam dat die gelowiges liewer weggebly het. Die hout, wat vir die katedraal gebruik is, het blykbaar al van die begin af gevrot.

Alhoewel die katedraal in 1817 volledig gerestoureer is, is daar op Pinkstersondag 1825 skielik vreemde geluide gehoor wat blykbaar van die dakwerk se balke gekom het. Die kerkgangers het geskrik en deur die deure en vensters na buite gevlug.

Die doopvont, wat deur die Deense beeldhouer Bertel Thorvaldsen geskep is, is in 1839 ingewy, en in 1840 is die katedraal ook van 'n kerkorrel voorsien. In die jare 1847 en 1848 is die kerk onder leiding van die Deense argitek L.A. Winstrup vergroot. Ná enkele dekades waartydens min herstelwerk gedoen is het 'n Yslandse timmerman die kerk tot sy huidige vorm met sowat 600 sitplekke gerestoureer.

Die katedraal se solder het tot by die jaar 1881 ook Ysland se Nasionale Biblioteek, die Nasionale Museum en die Nasionale Argiewe gehuisves wat uiteindelik na die parlementsgebou verhuis het. Die laaste herstelwerk is in die jaar 1999 gedoen.

Sekulêre boukuns

Höfði-huis dien tans as 'n gastehuis vir amptelike besoekers van die stadsregering
Lêer:Perlan.jpeg
'n Nagtelike uitsig oor Perlan

Höfði-huis word as een van die belangrikste argitektoniese besienswaardighede in Reykjavik beskou. Die statige huis is oorspronklik in 1909 vir die Franse konsul in Ysland opgerig en wys nog steeds talle kenmerke van sy vroeëre funksie soos die letters RF ('n afkorting vir République Française), die konsul se naam en die jaar van sy oprigting bo-oor een van sy binnedeure. Later is die huis deur die Yslandse digter en sakeman Einar Benediktsson (1864-1940) en sy gesin bewoon.

Maar eers met die spitsberaad van supermoondhede in 1986, waaran die Amerikaanse president Ronald Reagan en die Sowjetleier Mikhail Gorbatsjef deelgeneem het, het die gebou internasionale bekendheid verwerf. 'n Japanse miljoenêr het self 'n namaaksel van die huis in sy tuisland laat oprig.

Daar was egter ook ander internasionaal bekende persoonlikhede wat 'n besoek aan Höfði-huis afgelê het soos die koningin van Engeland, die Britse eerste minister Winston Churchill en die Duits-Amerikaanse aktrise en sangeres Marlene Dietrich. Daar word aangeneem dat die huis selfs 'n permanente bewoner het, die misterieuse "Wit Vrou". Hierdie spook het een van die vroeëre bewoners, die Britse ambassadeur, baie senuagtig en prikkelbaar gemaak. Hy het die Britse Departement van Buitelandse Sake uiteindelik oorreed om die huis te verkoop.

Perlan se uitsigdek

Die gebou is tans in besit van die stad en word veral vir amptelike onthale en munisipale vergaderings gebruik. Die huis staan ongelukkig nie oop vir die publiek nie, maar mag van die buitekant af besigtig word.

Perlan (letterlik "die Pêrel") is 'n merkwaardige gebou wat in 1988 op die Öskjuhlið-heuwel opgerig en uniek aan Ysland en moontlik ook die hele wêreld is: Dit is 'n reuse-waterreservoir waarin sowat 24 miljoen liter natuurlike geotermiese warmwater met 'n temperatuur van 85 °C vir verwarmingdoeleindes gestoor kan word.[6] Geotermiese energie verwarm in die winter naas Reykjavik se geboue ook sy strate en sypaadjies. Bo-oor die watertenks is 'n glaskoepel met 'n roterende fynproewersrestourant opgerig. Die koepel huisves daarnaas ook 'n kafee, terwyl die uitsigdek aan die buitekant, waarvoor geen toegangsgeld gevra word nie, 'n panoramiese 360°-uitsig oor Reykjavik en sy omgewing bied.

Onderaan die koepel en tussen die watertenks lê 'n ruim atrium waar verskeie uitstallings en ander gebeurtenisse gehou word. Die gebou pronk daarnaas ook met 'n klein kunsmatige geiser. Een van die watertenks bevat geen warmwater nie, maar huisves die Saga-museum wat met sy waspoppe die Yslandse Wiking-tydperk behandel.

Naby die Pêrel lok Strokkur, 'n kunsmatige geiser wat die spuitende warmwaterbronne van Geysir in die hoogland van Suidwes-Ysland naboots, besoekers. Die Öskjuhlið-heuwel is 'n beboste gebied met talle voetslaanpaaie. Aan sy voet lê die geotermiese strand van Nautholsvík wat op warm dae baie gewild is.

Bronne

Geskiedenis
Argitektuur
Yslandse boukuns
Stadskarakter
  • Albrecht, Birgit: Architekturführer Island. München: Deutsche Verlags-Anstalt 2000
Sakrale boukuns
Sekulêre boukuns

Verwysings

  1. Ingólfur Arnarson and his Descendants, deel van die History of Reykjavík. Verkry op 27 Desember 2007.
  2. Island. Polyglott APA Guide 2007/2008. Berlyn en München: Langenscheidt 2007, bl. 156
  3. Island. APA Guide 2007/2008, bl. 160
  4. Visit Reykjavik.com: From Norwegian roots
  5. Hochschule Bochum / Bochum University of Applied Sciences (Duitsland): fhboJournal nommer 44, Mei 2005
  6. www.eldey.de: Reykjavik