Gaan na inhoud

Boeremag

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Boeremag verwys na ‘n reaksionêre anti-regeringsmag wat na bewering in 2002 die African National Congress (ANC)-regering omver wou werp. In die plek daarvan wou die Boeremag die Boererepublieke laat herleef. Die hoogverraadhofsaak teen 22 lede van die Boeremag het reeds in Mei 2003 begin en is in Oktober 2013 afgehandel met die skuldigbevinding van Boeremag-lede.

Beplanning

[wysig | wysig bron]

Die Boeremag het eers in 2002 na vore gekom nadat ‘n groep bekend as die Boerevryheidsaksie (BVA) volgens die Nasionale Intelligensie Agentskap (NIA) beplan het om bomme te plant in die parlement en drinkwater van swart woongebiede te vergiftig.

Die Boeremag was ‘n groep van ongeveer 100 (volgens regeringsowerhede) wat uit die BVA ontstaan het met die doel om die ANC-regering omver te werp. Die groep het sy inspirasie uit die uitsprake van Siener van Rensburg (1864-1926) gekry dat ‘n swart leier sal doodgaan (vermoedelik Nelson Mandela) en dat swartes blankes sal aanval wat weer sal lei tot die herstel van die Boererepublieke. Dit blyk dat die Boeremag in selle opereer het en dat die arrestasies wat later gemaak is, nie alle selle vernietig het nie.

Die Boeremag se militêre leier was klaarblyklik ‘n voormalige offisier in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), Tom Vorster, terwyl die “overte” leier, Lourens du Plessis, ‘n sakeman van Pretoria was. Vorster, Du Plessis en Herman van Rooyen, nog een van die aangehoudenes, was blykbaar die finansierders van die Boeremag. Du Plessis se rol was blykbaar om oud-President P.W. Botha, te nader oor die moontlike geweldsopsies vir Afrikaners.

Volgens dokumentasie wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) daarna as bewysstukke by die hof ingedien het, het die Boeremag ‘n klompie dokumente opgestel om die oorname te beplan. Al hierdie dokumente dui aan dat die Boeremag goed ingelig was oor die werkinge van die weermag en polisiediens. Dit sluit in:

  • Die Gebeurlikheidsplan: dit verwys na die aanval van swartes op blankes en die blanke verset daarteen wat behels dat gewelddadig teenopgetree moet word. Siener van Rensburg se visioene word uitgelig en die Christelike beginsels van die blanke (Boeremag) weerstand word ook beklemtoon. Die gebeurlikheidsplan wys ook uit hoe teen die swart aanvalle wat deur die ANC aangeblaas sal word, opgetree moet word om ‘n oorwinning te verseker. ‘n Boereweermag sal in Prieska bymekaarkom om ‘n teenaanval te loods en die ou Boererepublieke te herstel.
  • Dokument 12: die dokument verduidelik in besonderhede hoe strategiese militêre en ander punte oorgeneem moet word en watter strategie en taktiek beplan word hiervoor. Soos in Die Gebeurlikheidsplan word as eerste strategie Boereweerstand teen swart aanvalle op blankes beplan, maar as ‘n alternatief Boeremagaanvalle op infrastruktuur in Suid-Afrika wat op die Jode of Moslems blameer moet word. Swartes en Indiërs moet uit die land verdryf word of minstens na KwaZulu-Natal gelok word. ‘n Vyffaseplan word deur Dokument 12 uiteengesit:
    • Fase 1: Organisering: informasie oor die SAUK, militêre instellings, parlement, ens word bymekaargemaak.
    • Fase 2: Veroorsaak chaos om bewegingsvryheid te veroorsaak: die chaos wat deur swart-op-wit geweld of infrastruktuuraanvalle veroorsaak word en bewegingsvryheid veroorsaak.
    • Fase 3: Staatsgreep: 4,000 lede van die Boereweermag sny kommunikasie- en elektrisiteitsroetes na Johannesburg en Bloemfontein af, radiostasies word oorgeneem, Boere “verraaiers” word doodgeskiet, weermag- en polisievoertuie en krygstuig word vernietig, die NIA-hoofkwartier oorgeneem en brandstofaanlegte beset.
    • Fase 4: Oorneem van sekondêre teikens: teikens soos hawens, lughawens, telefoonsentrales, hospitale ens word oorgeneem en swartes/Indiërs beveel om die land te verlaat of na KwaZulu-Natal te gaan deur hulle met kospakkies daarheen te lok.
    • Fase 5: Nuwe regering: nadat die sekuriteitssituasie verbeter sal die Boererepublieke herstel word.
  • Oorlogskabinet: dié dokument stel die Oorlogskabinet van die Suid-Afrikaanse Boererepubliek in. Dit is ‘n interimregering wat in Julie 2002 daargestel is om die oorname te lei. Die Suid-Afrikaanse Boererepubliek sal die ou Zuid-Afrikaanse Republiek, die Republiek van die Oranje-Vrystaat en die Republiek van Vryheid herstel en as ‘n eenheid saamsnoer. Die oorlogskabinet verwys na die Interim President van die Suid-Afrikaanse Boererepublieke as “Theunis Kruger”, wat heel moontlik ‘n alias is.

Aksies en beplande aksies

[wysig | wysig bron]
  • Die SAPD ontvang inligting dat ‘n militêre aksie teen die regering beplan word. Dit lei tot klopjagte en arrestasies op beweerde samesweerders in Oktober 2001 en April 2002.
  • Die SAPD beweer dat hulle die Boeremag verhoed het om die "World Summit on Sustainable Development" (WSSD) in September 2002 te ontwrig. 120 ploftoestelle sou in die onthaaltoerusting versteek word. Die Boeremag word ook verdink dat hulle die Johannesburgse Effektebeurs en die M1-snelweg naby Sandton met plofstof wou ontwrig.
  • In September 2002 word ‘n 8-tonvragmotor naby Lichtenburg ontdek wat as mobiele hoofkwartier vir die Boeremag gebruik sou word. Behalwe kommunikasietoerusting, word ploftoestelle en outomatiese gewere ontdek.
  • In Oktober 2002 word ‘n arsenaal wapens op ‘n plaas van ‘n beweerde Boeremaglid naby Modimolle (voorheen Nylstroom) ontdek. Dit sluit outomatiese handwapens, handgranate en plofstof in.
  • Op 30 Oktober 2002 ontplof agt bomme in Soweto, wat meestal treinspore beskadig. Een van die bomme beskadig ‘n moskee. Een persoon word deur ‘n spoorstaaf getref en gedood nadat die spoor honderde meter deur die lug trek.
  • Ure later ontplof ‘n toestel by die Boeddhistetempel in Bronkhorstspruit.
  • Op 23 November 2002 word ‘n polisiehelikopter by die Grand Central-lughawe in Gauteng beskadig deur ‘n ploftoestel.
  • Op 27 November 2002 ontplof ‘n bom en beskadig die brug na die Wild Coast Sun kasino op die KwaZulu-Natal/Oos-Kaapgrens.
  • Van 29 November 2002 tot middel Desember 2002 word etlike wapenopslagplekke gevind nadat die polisie bekende regses en Boermagsimpatiseerders begin ondersoek. Die polisie beweer dat ongeveer 40 Boeremaglede aktief deelgeneem het aan pogings om die staat te ondermyn.
  • Die NIA beweer in Desember 2002 dat hulle ‘n poging gefnuik het van die Boeremag om ‘n grootskaalse aanval op 16 Desember 2002 te loods.
  • Die polisie beweer dat die Boeremag beplan het om bomme te plant in Durban, Port Shepstone, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Kaapstad teen einde 2002.

Inhegtenisname

[wysig | wysig bron]

Die volgende vermeende Boeremag-lede is in hegtenis geneem:

Hofsaak

[wysig | wysig bron]

Die hofsaak teen die 22 vermeende Boeremaglede begin in die Pretoriase hooggeregshof terwyl die aangehoudendes in die berugte C-Max tronk in Pretoria aangehou word. Die 22 word op 43 aanklagte aangehou, insluitend moord, hoogverraad en terrorisme. Drie voormalige Boeremaglede word as die staat se vernaamste getuies gebruik, naamlik ‘n polisie-informant, J.C. Smit, Henk van Zijl en Dion Krause. Alan van Rooyen, Dawid Oosthuizen en Lourens du Plessis is nog Boeremaglede wat staatsgetuies geword het. Die hofsaak word deurentyd onderbreek deur buitegewone hofaansoeke, insluitend regskostes, regsverteenwoordigers, en dat hulle gedwing word om na MetroFM, 'n swart gemeenskapsradiostasie, in C-Max te luister.

Op 3 Mei 2006 ontsnap Gouws en Van Rooyen uit die Pretoriase hooggeregshof tydens die etensuur, blykbaar as gevolg van onbeholpenheid van die SAPD. Hulle word eers op 20 Januarie 2007 weer deur die Spesiale Taakmag van die SAPD in Centurion in hegtenis geneem.

Hofuitspraak

[wysig | wysig bron]

Op 29 Oktober 2013 is die leier van die Boeremag, Tom Vorster en vyf lede van sy "bomgroep" wat in 2002 verskeie teikens opgeblaas het, gevonnis tot 'n effektiewe 25 jaar gevangenisstraf deur die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria. Die uitvoerders van die bomontploffings Herman van Rooyen, Johan en Wilhelm Pretorius, en Rudi Gouws het dieselfde vonnis ontvang as Vorster. Die derde Pretorius-broer, die bomvervaardiger Kobus Pretorius, is gevonnis tot 20 jaar tronkstraf, waarvan 10 jaar opgeskort is.

Boeremag-leiers, Mike du Toit, Dirk Hanekom en die Pretorius-broers se pa, dr. Lets Pretorius, is elk gevonnis tot 30 jaar gevangenisstraf, waarvan 10 jaar voorwaardelik opgeskort is. Mike du Toit se regterhand, André du Toit, en Dion van den Heever is gevonnis tot 20 jaar gevangenisstraf waarvan 10 jaar opgeskort is.

Rooikoos du Plessis en Jurie Vermeulen, wat ook belangrike rol gespeel het in die beplanning van die staatsgreep, het 15 jaar gevangenisstraf gekry, waarvan 10 opgeskort is. Een van die Boeremag se mees aktiewe lede en die Boeremag-kapelaan, 74-jarige Vis Visagie, is tot vyf jaar se korrektiewe toesig gevonnis.

Vyf van die Boeremag-lede wat 'n mindere rol gespeel het, insluitende die jongste lid Jacques Jordaan, het slegs opgeskorte vonnise gekry. Die ander is Adriaan van Wyk en voormalige weermagbeamptes Giel Burger, Jacques Olivier, en Pieter van Deventer.[1]

Polisiebetrokkenheid

[wysig | wysig bron]

Prof Hercules Booysen, 'n voormalige professor in die regte by Unisa, het vir twee van die Pretorius-broers verskyn. In sy finale betoog spel hy uit dat die Polisie 'n prominente rol in die sogenaamde beplanning van 'n staatsgreep gespeel het. Hy haal verskeie voorbeelde uit die oorkonde aan wat dui dat polisie-agente deurentyd 'n deurslaggewende rol in die verloop van die totstandkoming en inwerkingstelling van die sogenaamde staatsgreep gespeel het.[2]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. South African History Online, Boeremag Treason Trial Timeline. https://www.sahistory.org.za/topic/boeremag-treason-trial-timeline. Besoek 31 Maart 2019
  2. Boeremag was glo polisie-operasie[dooie skakel], PRAAG, 24 November 2011