Gaan na inhoud

Gallipoli

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Satellietfoto van die Gallipoli-skiereiland en die omringende gebied.

Die Gallipoli-skiereiland (Turks: Gelibolu Yarımadası) is geleë in die Europese deel van Turkye, met die Egeïese See wes en die Dardanelle-seestraat oos daarvan. Gallipoli is die Italiaanse vorm van die Griekse naam Καλλίπολις (Kallípolis, "Mooi Stad"),[1] die oorspronklike naam van die moderne dorp Gelibolu.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die Gallipoli-skiereiland was deel van die Bisantynse Ryk. Ná ’n verwoestende aardbewing in 1354 was die stad Gallipoli byna verlate, maar dit is vinnig oorgeneem deur Turke van Anatolië, die Asiatiese kant van die Dardanelle. Dit was die eerste vesting van die Ottomaanse Turke in Europa en die basis van waar hulle oor groot dele uitgebrei het.[2]

Tydens die Krim-oorlog in 1854 het Gallipoli ’n groot laer van die Britse en Franse magte gehuisves.

In die Eerste Wêreldoorlog het die Westerse Geallieerde magte in 1915 ’n groot mag van Britse, Australiese en Nieu-Seelandse troepe na Gallipoli gestuur om dit in te val en toegang tot die Dardanelle te kry. Turkse soldate het die Geallieerdes op die strande van die skiereiland vasgekeer. Myne is in die Dardanelle geplaas om te keer dat Geallieerde skepe deurvaar. Hoewel twee skepe dit tog reggekry het, het die poging om Gallipoli te verower misluk en dit is eindelik in Januarie 1916 laat vaar, ná 10 maande van gevegte en meer as 200 000 gesneuwelde soldate.

In 1920, ná die nederlaag van die Russiese Wit Leër, het ’n aansienlike aantal soldate en hul families van die Krim na Gallipoli gevlug en van daar na lande soos Joego-Slawië.

Mustafa Kemal

[wysig | wysig bron]
Die Ali Burnu-gedenkteken by Anzac-baai met Atatürk se woorde.

Die Gallipoli-veldtog het die loopbaan van Mustafa Kemal, ’n onbekende leëroffisier met ’n lae rang, ’n groot hupstoot gegee. Hy het ’n nasionale held geword en eindelik die stigter en eerste president van die moderne Turkse staat met die ondergang van die Ottomaanse Ryk aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog.

Kemal het sy mag oorskry en bevele verontagsaam in sy vasbeslotenheid om die Geallieerdes te stuit. Sy bekende toespraak "Ek gelas julle nie om te veg nie, ek gelas julle om te sterf. In die tyd wat dit ons neem om te sterf, kan ons vervang word deur ’n nuwe besending soldate" (Turks: "Ben size taaruzu değil, ölmeyi emrediyorum. Biz ölünceye kadar geçecek zaman zarfında yerimize başka kuvvetler ve kumandanlar geçebilir") word voorgehou as bewys van sy dominante persoonlikheid. Die Turkse oorwinning het bygedra tot sy bynaam "Vader van Turkye" (Atatürk).

Anzac-dag

[wysig | wysig bron]
Grafte by Anzac-baai.

Anzac-dag word elke jaar gevier op 25 April, die dag in 1915 toe die Anzacs (troepe van die Australiese en Nieu-Seelandse Leërkorps) in Gallipoli geland het in wat sedert 1985 Anzac-baai genoem word. Dit is veral in Australië en Nieu-Seeland ’n belangrike dag en tot 10 000 mense woon jaarliks die dienste in Anzac-baai by.

Op 25 April 1990, met die 75ste herdenking van die Gallipoli-landing, en weer op 25 April 2005, met die 90ste herdenking, het regeringsamptenare van Australië en Nieu-Seeland, die meeste van die oorlewende Gallipoli-veterane en duisende toeriste na Turkye gereis vir ’n spesiale dagbreekdiens.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Liddell, Henry George; Scott, Robert (1940). "Καλλίπολις". A Greek–English Lexicon. Revised and augmented throughout by Henry Stuart Jones with the assistance of Roderick McKenzie. Oxford: Clarendon Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2022. Besoek op 28 Augustus 2020 – via Perseus Digital Library Project.
  2. Crowley, Roger. 1453: The Holy War for Constantinople and the Clash of Islam and the West. New York: Hyperion, 2005. p 31 ISBN 1-4013-0850-3.

Skakels

[wysig | wysig bron]