James Conlon
James Conlon | |
---|---|
Gebore | 18 Maart 1950 New York Stad, Verenigde State |
Beroep | Dirigent |
James Conlon (18 Maart 1950 – )[1] is 'n Amerikaanse dirigent van opera, simfoniese en korale werke. Hy is die musiekdirekteur van die Los Angeles Opera asook hoofdirigent van die Italiaanse RAI Nasionale Simfonieorkes. Hy was vanaf 1979 tot 2016 die langsdienende direkteur van die twee-week lange Cincinnati May Festival[2] gewees. Hy was vanaf 2005 tot 2015 musiekdirekteur van die Ravinia-fees, te wete die somertuiste van die Chicago Simfonieorkes.[3] Hy is bekend om sy pogings om die musiek van komponiste wat gedurende die bewind van die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty onderdruk is te laat herleef.[4]
Vroeë jare
[wysig | wysig bron]Conlon het grootgeword in 'n gesin van vyf kinders in Cherrystraat in Douglaston, Queens, New York. Sy ma, Angeline L. Conlon, was 'n vryskutskrywer. Sy vader was 'n assistent van die New York Kommissaris van Arbeid in die Robert F. Wagner-administrasie. Sy broers en susters was nie musikaal aangelê nie, en ook nie sy ouers nie. Toe hy elf jaar oud was het hy na 'n opvoering van La traviata deur 'n amateurmaatskappy, wat gestig is deur die ma van 'n vriend, (Edith Mugdan, die ma van die jong Conlon se beste vriend, Walter Mugdan, en die stigter van die North Shore Opera) gaan kyk. Hy wou graag musieklesse ontvang, en het 'n seun-sopraan in 'n kinderkoor in 'n operageselskap in Queens geword. Hy het daarvan gedroom om 'n tenoor te word en daarna 'n bariton, en wou selfs op 'n stadium die rol van Carmen gesing het. Uiteindelik het dit vir hom duidelik geword dat hy 'n opera-dirigent moes word indien hy sy drome wou bewaarheid.
Opvoeding
[wysig | wysig bron]Hy het op vyftienjarige leeftyd ingeskryf by die High School of Music & Art, en op agttien jaar is hy aanvaar in die Aspen Music Festival and School dirigenteprogram. In September 1968 het hy ingeskryf by die Juilliard-skool van musiek. In 1970 het die Juilliard-orkes 'n opvoedkundige toer na Europa onderneem en is hy die volgende jaar na die Festival dei Due Mondi uitgenooi as 'n assistent wat moes bystaan as répétiteur, afrigter en koordirigent. Gedurende die tyd het hy 'n uitvoering van die opera Boris Godoenof behartig. Hy het in herinnering geroep dat hy op 'n jong ouderdom op hierdie opera verlief geraak het en gedroom het dat dit die eerste opera sou wees wat hy sou opvoer.
Die dirigent Thomas Schippers het in 1972 tydens 'n geskeduleerde Juilliard-produksie van La bohème, waarvan Mihalis Kakogiannis (Michael Cacoyannis) die direkteur was, skielik onttrek. Destyds was Maria Callas besig met 'n reeks meesterklasse by Juilliard, en het Conlon gehoor repeteer. Sy het aan Juilliard se president, Peter Mennin, voorgestel dat Conlon die dirigeerpligte moet oorneem.[5]
Loopbaan
[wysig | wysig bron]Conlon het 'n dirigent-toekenning ontvang vanaf die Amerikaanse Nasionale Orkesassosiasie, en in 1974 die jongste dirigent geword om betrek te word by die New York Filharmoniese Orkes se intekenaarsreeks. In 1976 het hy sy buiging by die Metropolitan Opera gemaak. In dieselfde jaar het hy sy Britse buiging met die Scottish Opera gemaak. In 1979 het hy sy buiging by Covent Garden gemaak. Hy is in 1979 aangestel as direkteur van die Cincinnati May Festival, welke pos hy tot 2016 behou het. Na betrekkinge by die Opéra National de Paris, Maggio Musicale Fiorentino, Rotterdam Filharmoniese Orkes en die Chicago Lyric Opera, het Conlon in 1989 hoofdirigent van die Keulen Opera geword. In 1996 is hy aangestel as musiekdirekteur van die Opéra National de Paris, terwyl hy terselfdertyd gedien het as musiekdirekteur van die stad Keulen, Duitsland.[6]
Sedert sy buiging by die New York Filharmoniese Orkes in 1974 op uitnodiging van Pierre Boulez, het Conlon saam met feitlik elke belangrike Noord-Amerikaanse en Europese orkes verskyn. Hy het ook saam met baie van die wêreld se grootste operageselskappe verskyn, waaronder Teatro alla Scala (Milaan), die Royal Opera in Covent Garden (Londen), die Lyric Opera of Chicago en die Maggio Musicale Fiorentino (Florence). Hy was vir bykans 30 jaar met die Metropolitan Opera geassosieer waar hy in 1976 sy buiging gemaak het. Hy het meer as 250 opvoerings daar gedirigeer, met 'n wye reeks werke uit die Italiaanse, Duitse, Franse, Russiese en Tsjeggiese repertorium.
Conlon het verskeie belangrike Europese poste beklee, waaronder hoofdirigent van die Rotterdam Filharmoniese Orkes (1983-1991), algemene musiekdirekteur van die stad Keulen, Duitsland (1989–2002), - waartydens hy terselfdertyd musiekdirekteur van die Gürzenich Orkes en die Keulen-opera, asook hoofdirigent van die Paryse Nasionale Opera (1995–2004) was (sy ampstermyn in Parys was die langste van enige dirigent sedert 1939). Sy leierskap word veral geassosieer met 'n toename in artistieke standaarde, algehele produktiwiteit en 'n eksponensiële dekade lange toename in terme van bywoning in 'n era van dalende gehore. In 2015 is hy aangewys as hoofdirigent van die Italiaanse RAI Nasionale Simfonieorkes.
VSA direkteurskappe
[wysig | wysig bron]Conlon is sedert die 2006/07 seisoen musiekdirekteur van die Los Angeles Opera. Sy werk daar het 'n reeks met die naam "Recovered Voices" ingesluit, te wete 'n multi-jaar projek waartydens Conlon operas aangebied het deur komponiste wat deur die Nazi-bewind geraak is. Die reeks bevat 'n dubbelsnit van Alexander von Zemlinski se Der Zwerg (Die Dwerg) en Viktor Ullmann se Der zerbrochene Krug asook operas deur komponiste soos Schreker en Braunfels. In 'n poging om 'n Wagneriaanse tradisie in Los Angeles te vestig, het Conlon sewe van Wagner se werke tot dusver gelei, waaronder die eerste optredes ooit in Los Angeles van Der Ring des Nibelungen in 2008/09. Conlon, wie se lewenslange fassinasie met Benjamin Britten weerspieël is in 'n persoonlike drie-jaar lange uitvoeringsiklus van die komponis se werke in Amerika en Europa, het in 2013 aan die voorpunt gestaan van Britten 100/LA: A Celebration, te wete 'n Los Angelese landwye samewerking wat uitvoerings, konferensies en uitstallings ingesluit het.[7]
Conlon was musiekdirekteur van die Ravinia-fees, wat van 2005 tot 2015 die somertuiste van die Chicago Simfonieorkes was. Hy was musiekdirekteur van die tweeweeklikse Cincinnati May Festival van 1979 tot 2016 en het sodoende artistieke leierskap gebied gedurende meer Mei-feeste as enige ander musiekdirekteur in die geskiedenis van die fees. Hy beklee daardeur 'n plek tussen die mees langsdienende musiekdirekteure van enige belangrike instelling vir klassieke musiek in die Verenigde State.
Pedagogie
[wysig | wysig bron]Conlon het onlangs 'n twee jaar-lange residensie met sy alma mater, die Juilliard-skool, voltooi. Tydens die residensie het Conlon saam met jong kunstenaars in die skool se drie afdelings - te wete dans, drama en musiek - gewerk aan 'n opvoedkundige projek met die doelwit om historiese nuuskierigheid by sowel studente as gehoorlede aan te wakker. Die kruisgenre-projek het bestaan uit optredes, simposia, meesterklasse en afrigting. Benewens die bestudering en uitvoering van die minder bekende repertorium van komponiste wat geraak is deur die opkoms van Nazisme en die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog, ten opsigte van wie hy 'n ywerige voorstander is, het Conlon simposia gemodereer en gepraat oor die rol van die kunstenaar in die hedendaagse tydgleuf.
Opnames
[wysig | wysig bron]Conlon het uitvoerig opgeneem vir die EMI-, Erato-, Capriccio- en Sony Classical plate-etikette. Sy eerste opname vir Telarc was die wêreldpremière van Franz Liszt se St. Stanislaus oratorio wat in Januarie 2004 vrygestel is. Hy is 'n voorstander van die werke van Zemlinski. Hy het nege opnames van die komponis se operas en orkeswerke saam met die Gürzenich Orkes-Keulen Filharmoniese Orkes vir EMI gemaak. Verskeie van hierdie opnames het gesogte internasionale toekennings verwerf, en in Oktober 2002 is die reeks bekroon met die 2002 ECHO Classic-toekenning vir "Redaksionele Prestasie van die Jaar". Conlon het ook 'n reeks 20ste-eeuse werke met die Capriccio plate-etiket opgeneem, waaronder 'n CD met werke van Erwin Schulhoff saam met die Bayerischer Rundfunk, en 'n CD/DVD van die werke van Viktor Ullmann saam met die Gürzenich-orkes, wat die Preis der deutschen Schallplattenkritik gewen het. Sy ander Capriccio-opnames sluit die werke van Karl Amadeus Hartmann en Dmitri Sjostakowitsj met die violis Vladimir Spivakov en die Keulen-Filharmoniese Orkes in. Sy mees onlangse CD is 'n opname op die Capriccio plate-etiket saam met die Beiere Radio-simfonieorkes, met werke deur Bohuslav Martinů
Rolprente
[wysig | wysig bron]Conlon het die orkes gelei vir Kenneth Branagh se rolprent The Magic Flute (Die Towerfluit) van 2006, te wete 'n rolprentweergawe in Engels van Mozart se gelyknamige opera. Dit speel af tydens die Eerste Wêreldoorlog, maar is andersins getrou aan die oorspronklike verhaal. Die rolprent is in Europa vrygestel, maar met ingang April 2010 is dit nog nie in die Verenigde State vrygestel of op Amerikaanse televisie vertoon nie.
Toekennings
[wysig | wysig bron]- Grand Prix du Disque (Frankryk), vir sy EMI-opname van Zemlinski: Die Dwerg, 1997
- In 1999 het Conlon die Zemlinski-prys van die Universiteit van Cincinnati se Kollege-Konservatoria van Musiek ontvang, wat slegs een keer tevore toegeken is, vir sy pogings om die komponis se musiek internasionaal bekend te maak.
- In 2004 het hy 'n ere-doktorsgraad in musiek van die Juilliard-skool ontvang. In 2009 het hy 'n ere-doktorsgraad in die kunste honoris causa van die Chapman-universiteit, en in dieselfde jaar 'n eredoktorsgraad in Lettere en Wysbegeerte van die Brandeis-universiteit, ontvang.
- Conlon het in 2005 vir die eerste keer een van die vyf jaarlikse Opera News-toekennings ontvang ter erkenning van uitstaande bydraes van toonaangewende figure in die operawêreld.
- Hy is deur die New Yorkse Openbare Biblioteek as 'n Library Lion vereer, 'n jaarlikse toekenning wat aan individue gegee word ter erkenning van hul bydraes.
- Conlon is in 1996 deur die Franse regering as 'n Officier de L 'Ordre des Arts et des Lettres aangewys. In September 2002 het Conlon die grootste onderskeiding van Frankryk van die President van die Franse Republiek, Jacques Chirac ontvang — die Légion d'Honneur.
- Conlon het 'n medalje van die Amerikaanse Liszt-genootskap ontvang ter erkenning van sy uitstaande uitvoerings van die komponis se werke.
- Hy het in 2008 in Florence die Italiaanse Premio Galileo 2000-toekenning ontvang vir sy belangrike bydrae tot musiek, kuns en vrede.
- Conlon het in 2009 die Musiekinstituut van Chicago se Dushkin-toekenning ontvang ter erkenning van sy kunstenaarskap en passie as kunstenaar, pedagoog en mentor.
- Conlon se interpretasie van Kurt Weill se Rise and Fall of the City of Mahagonny het in 2009 'n Grammy-toekenning gewen vir die Beste Opera-opname. Die opname is saam met die Los Angeles Opera gemaak.
- Conlon is in 2009 opgeneem in die American Classical Music Hall of Fame.
- Conlon se wêreldpremiere-opname van John Corigliano se The Ghosts of Versailles saam met die Los Angeles Opera het die 2017 Grammy-toekenning vir die Beste Opera-opname en die Grammy-toekenning vir Best Ontwerpe album -Klassiek- gewen.
Geselekteerde diskografie
[wysig | wysig bron]- Berlioz: Béatrice et Bénédict, Erato Disques.
- John Corigliano - The Ghosts of Versailles. James Conlon, Patricia Racette, Christopher Maltman, Kristinn Sigmundsson, Joshua Guerrero, Los Angeles Opera. PENTATONE Plate-etiket PTC 5186538 (2016)
- Liszt: Faust Simfonie, Erato Disques.
- Mendelssohn: Elijah (oratorio), EMI Classics.
- Puccini: La Bohème, Erato/Red Seal, 1998.
- Puccini's Heroines: The Power of Love, Warner, 2002.
- Sjostakowitsj: Vioolconcerto no. 1; Lady Macbeth of Mtsensk Suite, Capriccio, 2002.
- Bo Skovhus: Arias, Sony Classical, 1998.
- Strawinski: Le Rossignol, EMI, 1999.
- Zemlinski: Eine florentinische Tragödie ( 'n Florentynse Tragedie) , EMI Classics, 1997.
- Zemlinski: Der Zwerg (Die Dwerg), EMI, 1997.
- Zemlinski: Simfonieë Nos. 1 & 2, Angel, 1998.
- Zemlinski: Cymbeline Suite/Ein Tanzpoem/Frühlingsbegräbnis, EMI, 2001.
- Zemlinski: Korale - en Orkeswerke, EMI, 2002.
- Amore II: Great Italian Love Arias, Sony Classical, 2000.
- A Salute to American Music (Richard Tucker Music Foundation Gala XVI), RCA Victor Red Seal, 1992.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Sony Classical Geargiveer 5 Mei 2006 op Wayback Machine
- ↑ F. Paul Driscol (1 Julie 2009). "Rethinking the Maestro Mystique". Opera News. Vol. 74, no. 1. Besoek op 24 Junie 2009.
- ↑ Rhein, John von. "James Conlon moves beyond Ravinia for a new beginning" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2019. Besoek op 6 Augustus 2018.
- ↑ Mermelstein, David (10 Februarie 2008). "James Conlon - Los Angeles Opera - Recovered Voices - Der Zwerg - Der Zerbrochene Krug - Music". The New York Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2018. Besoek op 6 Augustus 2018.
- ↑ "An Interview with Conductor James Conlon, Part 1". 29 Maart 2011. Besoek op 6 Augustus 2018.
- ↑ Boise State University newrelease (2005). Geargiveer 29 April 2007 op Wayback Machine
- ↑ "LA Opera - Britten 100/LA". www.laopera.org (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Augustus 2018. Besoek op 6 Augustus 2018.
- Jim Svejda. The Record Shelf Guide to the Classical Repertoire (1990) ISBN 1-55958-051-8
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Amptelike webwerf
- Onderhoud met James Conlon, 26 Januarie 1988
Kulturele poste | ||
---|---|---|
Voorafgegaan deur James Levine |
Musiekdirekteur, Cincinnati May Festival 1979–2016 |
Opgevolg deur Juanjo Mena |
Voorafgegaan deur David Zinman |
Hoofdirigent, Rotterdam Filharmoniese Orkes 1983–1991 |
Opgevolg deur Jeffrey Tate |
Voorafgegaan deur Marek Janowski |
Musiekdirekteur, Gürzenich Orchester, Keulen 1989–2002 |
Opgevolg deur Markus Stenz |
Voorafgegaan deur Myung-whun Chung |
Hoofdirigent, Opéra National de Paris 1995–2004 |
Opgevolg deur geen opvolger |
Voorafgegaan deur Christoph Eschenbach |
Musiekdirekteur, Ravinia-fees 2005–2015 |
Opgevolg deur Moet nog beslis word |
Voorafgegaan deur Kent Nagano |
Musiekdirekteur, Los Angeles Opera 2006-tans |
Opgevolg deur ingesetene |