Gaan na inhoud

Montessori-onderwys

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Maria Montessori

Montessori-onderwys is 'n individualistiese onderrigmetode vir voorskoolse en laerskoolkinders. Dit is ontwikkel deur die Italiaanse pedagoog Maria Montessori (1870-1952) en het veral op die gebied van die voorskoolse onderwys 'n groot invloed uitgeoefen.

Montessori-onderwys is 'n onderrigmetode wat hoofsaaklik gemik is op kinders tussen die ouderdomme van 3 en 12 jaar en is gebaseer op die individualisering van die onderwys. Die metode is ontwikkel deur die Italiaanse pedagoog Maria Montessori (1870-1952). wat ook die eerste vroulike dokter in Italië (1896) was. Sy is in 1898 aangestel as direktrise van 'n opleidingskool vir onderwysers van geestelik gestremde kinders, en 'n paar jaar later het sy lektrise geword aan ʼn opleidingskollege vir onderwyseresse.

In 1904 is sy aangestel as hoogleraar in die antropologie. Die eerste sogenaamde casa dei bambini ("kinderhuis"), wat bedoel was vir nie-skoolgaande kinders uit 'n krotbuurt van Rome, is in 1907 geopen, en haar bekendste pedagogiese werk, Die Montessorimetode (1909), het 'n uiteensetting gegee van die teorie wat as grondslag gedien het vir die werkwyse wat in die kinderhuis toegepas is.

Pedagogiese doelstellings

[wysig | wysig bron]

Volgens Maria Montessori moet opvoeding die kind bevry sodat dit tot 'n beter gemeenskap kan lei om vry te wees, het Montessori beweer, moet die mens selfstandig wees, en met die opvoeding tot selfstandigheid kan nie vroeg genoeg begin word nie. Vroeë uitinge van vryheid moet nie teëgegaan word nie, maar juis aangemoedig word. Die doel van die opvoeding is dan ook nie aanpassing (by die bestaande maatskaplike orde) nie" ... asof ons dit wat bereik is, onveranderd wil bewaar. Die kind sou wel dalk ʼn nuwe gemeenskapsvorm wil bou".

Uitgangspunte van die metode

[wysig | wysig bron]

Maria Montessori het - in teenstelling met baie van haar tydgenote - van die standpunt uitgegaan dat ʼn kind aktief is en nie passief nie, en dat hy nuuskierig en leergierig is. Hy is van nature aktief en skep gevolglik sy eie ontwikkeling; hy is dus "die vader van die mens".

Ontwikkeling (liggaamlik en geestelik) geskied volgens 'n soort bloudruk of "geestelike embrio", wat onder meer voorsiening maak vir opeenvolgende ontwikkelingstadia wat deur sensitiewe periodes afgebaken word. 'n Sensitiewe periode is 'n redelik kort periode waarin die kind ʼn unieke (onherhaalbare) ontvanklikheid besit vir sekere indrukke en die vermoë het om die gepaardgaande vaardighede te verwerf. Sensitiewe periodes word gekenmerk deur golwe van aktiwiteit en die drang om vroeë vaardighede gekonsentreerd en na hartelus te verrig.

Hoewel rypwording volgens Montessori 'n belangrike plek inneem in die ontwikkelingsproses, moet dit in noue samehang met die omgewing gesien word. Dit is dus nie net die rypwording wat daarom byvoorbeeld die leervermoë van 'n kind bepaal nie, maar ook die wisselwerking tussen die ontwikkelende kind en sy omgewing. Die kwaliteit en aard van 'n kind se ervaringe gaan afhang van die kwaliteit van die omgewing waarin hy hom bevind.

Die onderwys moet dus aan die kind 'n omgewing bied wat ryk is ten opsigte van kwaliteit, sodat die sensitiewe periodes alleen tot sinvolle aktiwiteite kan lei wanneer die kind hom bevind in 'n omgewing wat op sy (geestelike) behoeftes afgestem is. In die verband beklemtoon Montessori die belangrikheid van sintuiglike waarnemings by jong kinders, veral vir kognitiewe ontwikkeling.

Die Montessori-materiaal

[wysig | wysig bron]

Hierdie beskouinge is deur Montessori omgesit in 'n onderrigstelsel waarin 'n sorgvuldig voorbereide (skool-) omgewing 'n groot rol speel. Die omgewing moet aangepas word by die grootte van die kind, wat ook vrye toegang moet hê tot die beskikbare opvoedkundige materiaal.

Die materiaal, wat grotendeels deur Maria Montessori self ontwerp is, moet egter aan 'n aantal vereistes voldoen: Dit moet so aantreklik wees dat 'n kind graag daarmee wil werk (uitnodigingsaspek) verkieslik so onafhanklik moontlik, dit wil sê met minimale leiding en instruksies van die onderwyser. Dit beteken byvoorbeeld dat die kind sy foute self moet kan uitken en hulle regstel. Voorts moet dit uit die materiaal self duidelik blyk hoe en waarvoor dit gebruik moet word, en dit moet ʼn duidelike, onderlinge samehang vertoon.

Dit moet ook aangepas wees by die kind se behoeftes aan bepaalde aktiwiteite, veral ten opsigte van sintuiglike oefening, wat deur Montessori as noodsaaklik beskou is. Omdat die kind - op grond van sy vroeëre ervaringe - self die beste kan besluit watter aktiwiteite hy behoort te ontwikkel moet hy oor die nodige vryheid van handeling beskik. Hy kan gaan en staan waar hy wil (mits ander nie gehinder word nie), praat en met ander leerlinge oorleg pleeg, sy eie aktiwiteite kies en dies meer.

Die vryheid in die Montessori-skool is dus nie alleen idealisties nie, maar tot groot hoogte ook funksioneel, aangesien dit die voorvereiste is vir 'n sinvolle wissel werking tussen die kind en sy omgewing. 'n Logiese uitvloeisel is dat nie alle kinders in 'n leergroep op dieselfde tydstip met dieselfde materiaal en dieselfde aktiwiteit besig sal wees nie. Elke kind ontwikkel op sy eie manier en in sy eie tempo. Die Montessori-onderwys is dus individuele onderwys: lesse word individueel aangebied, na gelang van die vordering van elke kind.

Daarnaas is daar groeplesse (vir verskillende vlakke) en algemene lesse waaraan die hele groep deelneem. Anders as in die tradisionele onderwys, is die groepe nie saamgestel uit kinders van dieselfde ouderdomsgroep (6- jariges, 7-jariges, ensovoorts) nie, maar uit kinders van verskillende ouderdomme. 'n Montessori-laerskool bestaan deurgaans uit 'n ondervlak van 6-, 7- en 8- tot 9-jariges, en 'n bovlak van 9-, 10- en 11- tot 12-jariges.

Dit beteken dat daar afgesien word van die sogenaamde leerstof-jaarklasstelsel (die koppeling van ʼn bepaalde hoeveelheid leerstof aan ʼn jaarklas, waarmee die druipstelsel saamhang). In 'n groep werk kinders van uiteenlopende ouderdomsgroepe en vlakke (heterogene groeperinge) aan verskillende take en met verskillende materiaal (interne differensiasie). Die taak van die leier of leidster is om die vordering van elke leerling noukeurig dop te hou en prestasies te oordeel volgens die geskatte moontlikhede van die individuele kind en nie volgens die prestasievlak van ander kinders nie.

Punte word nie toegeken nie, maar oor die algemeen word mondelinge of skriftelike rapporte verskaf. Ook op kleuterskool word daar meestal met gemengde groepe van 4- en 5- jariges gewerk.

Toepassing en invloed van die metode

[wysig | wysig bron]

In sommige Westerse lande word die Montessori-metode (meer of minder integraal) in die praktyk toegepas, veral in voorskoolse onderrig, maar ook in primêre onderwys en in enkele gevalle ook in voortgesette onderwys. Montessori het ook 'n groot invloed uitgeoefen op die onderwysvernuwing oor die algemeen.

Talle idees wat nou oral aanvaar word - maar selde in die praktyk toegepas word - kan na Montessori teruggevoer word: die integrasie van voorskoolse en primêre onderwys; die afskaffing van die stelsel waarvolgens 'n kind nog 'n jaar in dieselfde klas agterbly indien hy druip; die noodsaaklikheid van individualisering en differensiasie; die baie aandag wat aan kognitiewe ontwikkeling bestee word en die rol wat die sintuie hierin speel; en die onderrig van jong kinders (van ongeveer 3 jaar) oor die algemeen.

Daar is verskeie Montessori-verenigings in talle lande, wat almal lid is van die Association Montessori International (AMI) in Amsterdam. Die eerste Montessori-kleuterskool in Suid-Afrika is in 1976 in Sandton, Johannesburg, gestig.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]