Safmarine
Safmarine Container Lines N.V. | |
Tipe | Aandelemaatskappy |
---|---|
Gestig | 1946 |
Hoofkantoor | Kaapstad, Suid-Afrika[1] |
Sleutelpersone | David Williams (HUB)[2] |
Gebied bedien | Wêreldwyd |
Industrie | Houer- en vragredery |
Dienste | Houer- en gewone vrag |
Moedermaatskappy | A.P. Møller-Mærsk Group |
Webwerf | safmarine.com |
Safmarine (Safmarine Container Lines N.V.) is 'n internasionale redery wat wêreldwye houerdienste asook seevervoer van gewone vrag aanbied.
Safmarine is oorspronklik in 1946 deur Suid-Afrikaanse nyweraars en Amerikaanse reders gestig en staan vandag bekend vir sy seevervoerdienste op noord-suidelike handelsroetes asook roetes na Afrika. Die hoofkwartier van Safmarine was in die Belgiese seehawe Antwerpen geleë waar dit sedert 1996 geregistreer was nadat dit die Belgiese houerredery CMBT, 'n vroeëre filiaal van Compagnie Maritime Belge (CMB), oorgeneem het.
Safmarine is op sy beurt in 1999 deur die Deense A.P. Møller-Mærsk Group oorgeneem wat die Safmarine-naam en -handelsmerk bewaar en dit nie volledig by sy eie redery Mærsk Sealand ingelyf het nie. Safmarine het in 2002 Torm Lines oorgeneem.
Op 3 Oktober 2011 is besluit om Safmarine se sakefunksies by dié van sy susterredery Mærsk Line te integreer.[3]
Passasierdienste
[wysig | wysig bron]Safmarine het gedurende twee periodes in sy geskiedenis, tussen 1965 en 1977 en nog eens tussen 1984 en 1985, 'n passasierdiens tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika aangebied.[4]
Safmarine se passasierdiens het in 1965 begin toe twee skepe van die Union-Castle-Redery, die RMS Transvaal en die RMS Pretoria Castle, wat op die roete tussen Southampton en Durban gevaar het, op versoek van die Suid-Afrikaanse regering aan Safmarine oorgedra is. Die skepe is hernoem as S.A. Vaal en S.A. Oranje en in Safmarine se korporatiewe kleure geverf, maar het steeds op hul oorspronklike roete gevaar. Albei skepe is eers in 1969 in Suid-Afrika geregistreer.
Gedurende die 1970's het die vraag na passasier- en gewone vragdienste op roetes tussen Europa en Suid-Afrika gaandeweg afgeneem, hoofsaaklik vanweë die strawwe mededinging van stralervliegtuie vir passasier- en die toenemende gebruik van nuwe houerskepe vir vragvervoer. Houerskepe is as baanbrekend beskou aangesien hulle seevrag doeltreffender en teen laer koste kon vervoer as konvensionele vragskepe. So is die S.A. Oranje, saam met haar Union-Castle-susterskip RMS Edinburgh Castle, in 1975 buite diens gestel en aan 'n skrootwerf verkoop.
Die gewilde RMS Pendennis Castle is in Junie 1976 eweneens buite diens gestel sodat net die S.A. Vaal, naas Union Castle se RMS Windsor (gebou in 1959) en twee kleiner gekombineerde vrag-, pos- en passasierskepe, die RMMV Good Hope Castle en RMMV Southampton Castle, op die Brits-Suid-Afrikaanse roete oorgebly het. In Oktober 1977 het albei skeepvaartlyne hul passasierdienste gestaak, en die S.A. Vaal is aan die redery Carnival Cruise Lines verkoop wat dit as SS Festivale bedryf het.
In 1984 het Safmarine die plesierboot MS Astor van die Duitse HADAG-redery gekoop. Nadat die skip opgeknap is, is die passasierdiens op die roete tussen Southampton en Kaapstad hervat. Daarnaas is ook plesiervaarte uit Suid-Afrikaanse en Britse hawens aangebied. Die MS Astor se reisspoed het egter geblyk om nie aanvaarbaar vir 'n geskeduleerde passasierdiens oor groot afstande te wees nie, en so het Safmarine besluit om 'n nuwe, vinniger plesierboot deur die Duitse werf Howaldtswerke-Deutsche Werft in Kiel te laat bou. Dit is op dieselfde ontwerp gebaseer soos die Astor en sou ook dieselfde naam dra.
Terwyl die nuwe skip in aanbou was, is die eerste Astor aan die Oos-Duitse skeepvaartlyn Deutsche Seerederei verkoop wat dit as MS Arkona bedryf het. Aangesien die Duitse Demokratiese Republiek vanweë Pretoria se rassebeleid amptelik geen handelsbande met Suid-Afrika onderhou het nie, is onder meer Wes-Duitse bemiddelaars vir die kontrak gebruik.[5]
Uiteindelik is die tweede Astor nooit deur Safmarine in bedryf gestel nie nadat die redery in 1986 besluit het om sy passasierdiens te staak. Die tweede Astor is, terwyl dit nog in aanbou was, in Januarie 1986 aan Marlan Corporation verkoop.[6]
Konvensionele vragskepe in die 1960's
[wysig | wysig bron]Victory-klas
[wysig | wysig bron]Safmarine het drie Victory-klas-oorlogskepe in die Verenigde State gekoop wat vervolgens omgebou is om gewone droë vrag te vervoer. Die skepe is na Suid-Afrikaanse wynplase vernoem en in 1947 as Vergelegen, Morgenster en Constantia in bedryf gestel. Safmarine het sodoende 'n Suid-Afrikaans-gebaseerde vragredery geword.
Die drie vragskepe het geblyk om uiters duursaam en betroubaar te wees. In 1961 is hul name gewysig na South African Victory, South African Venture en South African Vanguard. Die voorsetsel South African is in 1966 verkort tot S.A. Die skepe was toegerus met twee Babcock & Wilcox-stoomketels waarin water in superverhitte stoom verander is en twee Westinghouse-turbines in 'n enkelskag van energie voorsien het. Die enjins het 6 000 perdekrag opgewek vir 'n maksimum spoed van 16 knope. Elektrisiteit aan boord is deur twee stoomturbines opgewek wat twee gelykstroomdinamos aangedryf het.
Global-klas
[wysig | wysig bron]Die volgende vier susterskepe, wat in diens geneem is, was die South African Trader, die South African Pioneer, die South African Transporter en die South African Merchant. Hulle is ontwerp om gewone droë vrag te vervoer, maar het ook oor slaapplekke vir twaalf passasiers beskik. Die skepe is almal in Skotland gebou en teen die middel van die 1950's in bedryf gestel. Die voorsetsel South African is in 1966 verkort tot S.A.
Die enjinkamers is toegerus met twee Yarrow-stoomketels wat twee Parson-turbines in 'n enkele skag van superverhitte stoom voorsien het. Die enjins het 7 000 perdekrag opgewek vir 'n maksimum spoed van 15 knope. Elektrisiteit aan boord is deur drie Ruston Hornsby-dieselenjins verskaf wat gelykstroomdinamos aangedryf het.
S-klas
[wysig | wysig bron]In 1961 is die South African Statesman, die South African Seafarer en die South African Shipper by Safmarine se vloot gevoeg. Hulle is eweneens ontwerp om gewone droë vrag te vervoer. Die skepe is oorspronklik in die 1950's in Skotland vir die destydse Clan Line (later Springbok Shipping Co.) vervaardig. Die voorsetsel South African is in 1966 verkort tot S.A.
Een van die opvallendste kenmerk van hierdie vragskepe was die kap op hul skoorstene. Die enjinkamers is toegerus met twee Babcock & Wilcox-stoomketels wat drie Parson-turbines in 'n enkele skag van superverhitte stoom voorsien het. Die enjins het 10 000 perdekrag opgewek vir 'n maksimum spoed van 17 knope. Elektrisiteit aan boord is deur drie Ruston Hornsby-dieselenjins opgewek wat gelykstroomdinamos aangedryf het.
Nederlands-vervaardigde koelskepe
[wysig | wysig bron]Drie koelskepe, die S.A. Langkloof, S.A. Zebediela en S.A. Hexrivier, is deur Safmarine in diens geneem om bevrore vrugte uit Suid-Afrika na markte in die Verenigde Koninkryk en vastelandse Europa te vervoer. Die skepe is op Nederlandse skeepswerwe gebou en tussen die vroeë en middel van die 1960's in bedryf gestel. Hulle is deur 'n M.A.N. K8Z70/120-laespoed-tweeslag-agtsilinder-enjin aangedryf wat sowat 9 600 perdekrag opgewek het vir 'n maksimum spoed van 17 knope. Elektrisiteit aan boord is deur vier M.A.N.-dieselenjins opgewek wat wisselstroomdinamos aangedryf het.
Skots-vervaardigde koelskepe
[wysig | wysig bron]Drie verdere koelskepe, wat bevrore Suid-Afrikaanse vrugte na Britse en ander Europese invoerhawens vervoer het, was die S.A. Letaba, die S.A. Tzaneen en die S.A. Drakenstein wat op Skotse werwe gebou en teen die middel van die 1960's in diens geneem is. Hul skeepsrompe het baie op dié van hul Nederlands-vervaardigde susterskepe gelyk, maar is met 'n ander enjin toegerus. Hul B&W-negesilinder-tweeslag-laespoed-dieselenjins het sowat 9 650 perdekrag opgewek vir 'n maksimum spoed van 17 knope. Elektrisiteit aan boord is deur vier M.A.N.-dieselenjins opgewek wat wisselstroomdinamos aangedryf het.
Skepe met swaar hyskrane
[wysig | wysig bron]Die volgende drie skepe in Safmarine se vloot was weer vragskepe vir gewone droë vrag wat met swaar hyskeane toegerus is. Die S.A. Van der Stel, S.A. Weltevreden en S.A. Nederburg is deur 'n Nederlandse skeepswerf gebou en teen die middel van die 1960's in diens geneem. Die S.A. Van der Stel kon vrag van tot 250 ton met haar eie hyskraan oplig, die twee ander skepe 125 ton. Hulle is almal met M.A.N K6Z86/160-sessilinder-tweeslag-laespoed-dieselenjins togerus wat 14 000 perdekrag kon opwek vir 'n maksimum spoed van 21 knope. Elektrisiteit aan boord is deur drie M.A.N.-dieselenjins opgewek wat wisselstroomdinamos aangedryf het.
Die vragskepe is in 1975 en 1976 in Japan omgebou en midskeeps van bykomende vragruimte met 'n lengte van 100 voet voorsien wat spesifiek vir houers ontwerp is. 'n Nuwe swaar hyskraan is eweneens bygevoeg, net soos laaiplekke aan dek waar houers opmekaar gestapel kon word.
Die S.A.S. Vergelegen is in 1969 in opdrag gegee. Dit is toegerus met 'n 250 Stulken-hyskraan, en vragruimtes nommer 3/4 en 5/6 is uitgebrei. Die skip het later onder die naam Virgil gevaar voordat dit ná 1987 buite bedryf gestel is. Sowel die S.A.S. Vergelegen asook haar susterskepe het navigasie-opleidingsvaarte vir die Suid-Afrikaanse Vloot onderneem. Die S.A.S. Nederburg is in 1987 buite bedryf gestel. Op haar laaste vaart uit Durbanhawe is sy via Australië na 'n skrootwerf in die Verre Ooste toe.
Alphen-klas
[wysig | wysig bron]Die Alphen-klasskepe was die laaste droëvragskepe wat in die 1960's vir Safmarine gebou is. Terwyl die S.A. Alphen en S.A. Huguenot in die middel van die 1960's in diens geneem is, is die S.A. Constantia, S.A. Morgenster en S.A. Vergelegen eers later volgens dieselfde ontwerp in Japan gebou. Die S.A. Vergelegen is later in Duitsland omgebou en van 'n Stulken-hyskraan voorsien wat 250 ton se vrag kon oplig.
Die skepe is elkeen aangedryf deur 'n Sulzer 6RND90-sessilinder-tweeslag-dieselenjin wat 15 000 perdekrag kon opwek vir 'n maksimum spoed van 21 knope. Elektrisiteit aan boord is deur twee agtsilinder- en twee sessilinder-M.A.N.-dieselenjins opgewek wat wisselstroomdinamos aangedryf het.
Houerskepe
[wysig | wysig bron]Die Big Whites
[wysig | wysig bron]Vanaf die laat 1970's is die eerste houerdienste tussen Suid-Afrika en Europa aangebied. Safmarine het hiervoor vanaf die einde van 1977 vier susterskepe van die Helderberg-klas vir die South African Europe Container Service (SAECS) in diens geneem. Toe hierdie skepe gebou is, kon hulle 2 450 20-voet-standaard-ISO-houers vervoer en is hulle sodoende by die grootste houerskepe ter wêreld gereken. Vanweë hul kenmerkende wit romp is na die skepe ook as die Big Whites verwys.
Die skepe van die Helderberg-reeks is almal deur Franse skeepswerwe gebou:
- die naamgewende S.A. Helderberg deur die Chantiers de France-werf in Duinkerken (voltooi op 20 Desember 1977),
- net soos die S.A. Sederberg (geloods op 10 Januarie 1978),
- die S.A. Winterberg deur die Chantiers d'Atlantique-werf in Saint-Nazaire (afgelewer op 23 November 1978) en
- die S.A. Waterberg deur die Chantiers Navals de La Ciotat-werf in La Ciotat (afgelewer op 20 Februarie 1979).
Saam met ander internasionale rederye, wat derde-generasie-houerskepe soos die City of Durban (in diens van die Britse Ellerman Lines), die Nedlloyd Hoorn (in diens van Nedlloyd), die Ortelius (in diens van die Belgiese CMB), die Table Bay (Overseas Containers Ltd.) en die Transvaal (Deutsche Afrika Linien) het Safmarine se Helderberg-klasskepe die nuutgeboude houerterminale in Durban, Port Elizabeth en Kaapstad aangedoen. In hul laaste jare is skepe van die Helderberg-klas op die roete tussen Suid-Afrika en die Verre Ooste gebruik (die SAFARI-diens).
Die skepe se houerkapasiteit is later van oorspronklik 2 450 20-voet-standaardhouers verhoog tot 3 100. Hulle is met buitengewone geriewe soos lugversorging en stabilisatore asook 900 kragpunte vir koelhouers toegerus. Alle vier skepe is deur twee dieselenjins aangedryf. Die eienaarskajuite is deur Safmarine in 1990 net soos enkele offisierskajuite tot goed toegeruste passasierkajuite omgebou sodat 'n maksimum van twaalf passasiers vervoer kon word. Reise op die houerskepe het by seetoeriste uiters gewild geraak. Alle skepe was Panamax-skepe, dit wil sê hulle was nie te groot vir die sluise van die Panamakanaal nie.
Al vier skepe is deur Safmarine in 2000 verkoop, maar vervolgens vir 'n tydperk van drie jaar gehuur. In Augustus 2003 het die Athene-gebaseerde redery Danaos Shipping Company die houerskepe oorgeneem en hulle in 2008 ná afloop van die huurverdrae weens aanstaande herklassifikasie met 'n wins aan skrootwerwe verkoop.
Hoë bedryfskoste, wat deur die hoë verbruik van masjiene aan boord veroorsaak is, het net soos die relatief groot bemanning, wat vir die ConAir-koelinstallasie en die manuele beheer van koelhouers benodig is, en die relatief klein getal staanplekke vir houers het enige winsgewende bedryf van die skepe onmoontlik gemaak.
Die Mega Whites
[wysig | wysig bron]Die Helderberg-klasskepe is deur altesaam sewe nuwe houerskepe vervang waarvan twee deur die Suid-Koreaanse Hanjin-werf vervaardig is. Die Koreaanse skepe is post-Panamax-skepe wabesot 6 160 20-voet-standaardhouers kan vervoer en waarna Safmarine as Mega Whites verwys.
Safmarine vandag
[wysig | wysig bron]Met 'n totale kapasiteit van 70 000 standaardhouers op meer as veertig eie en gehuurde skepe vervoer Safmarine tans vrag op agttien internasionale seeroetes. Die redery is baie aktief op snel groeiende markte soos Indië, Volksrepubliek China en Brasilië.
In die vroeë 1990's het Safmarine 'n program geloods waarvolgens houers, wat deur die redery buite bedryf gestel is, vir hergebruik in benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika opgeknap word. Binne die bestek van die "Houers in die gemeenskap"-program is dusver meer as 8 000 houers in 2 000 verskillende projekte hergebruik waarby die klemtoon op onderwys val. Daarnaas is huisvesting aan Vigs-weeskinders verskaf.
Die A.P. Møller-Mærsk-groep bevorder daarnaas die beroepsopleiding van gekwalifiseerde personeel vir die seevervoerbedryf wat ook vir voorheen benadeelde groepe toegang tot loopbane in dié sektor bied.[7]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ www.safmarine.com
- ↑ Safmarine.com: About us - Management. Besoek op 10 Augustus 2020
- ↑ Safmarine Media Centre - Mærsk Liner Business to Integrate Safmarine Corporate Functions into Mærsk Line
- ↑ William H. Miller: The Last Blue Water Liners. Londen: Conway 1986, bl. 57-58 en 198-199
- ↑ simplonpc.co.uk: Astoria
- ↑ simplonpc.co.uk: Fedor Dostoevskiy
- ↑ "KwaZulu-Natal Business Portfolio: Safmarine". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Augustus 2013. Besoek op 2 Julie 2013.