Gaan na inhoud

Spaanse letterkunde

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Standbeeld van Miguel de Cervantes in Madrid.

In hierdie artikel verwys Spaanse letterkunde na die Spaanstalige literatuur van Spanje, dit wil sê alle prosatekste en poësie. Dit verwys hoofsaaklik na literatuur in die Kastiliaanse dialek - die huidige Spaans -, 'n literêre tradisie wat in die 12de eeu begin met Cantar de Mio Cid. Vir Spaanstalige literatuur buite die Iberiese Skiereiland, sien Latyns-Amerikaanse literatuur en Lys van Spaanstalige literêre skrywers.

Vroeë Spaanse letterkunde en die Middeleeue

[wysig | wysig bron]

Die jarcha

[wysig | wysig bron]

Die eerste Romaanse literatuur oor die Iberiese skiereiland neem tradisioneel 'n aanvang met die anonieme epiese gedig El Poema del Cid , geskryf in 1140. Dit was die algemene oortuiging, totdat 'n Hebreeuse geleerde in 1948 24 "jarcha's" (kort liriese gedigte) gepubliseer het wat in baie ou Spaans geskryf is. Hy het hulle in 'n sinagoge in Kaïro gevind. Later het die Spaanse akademikus Emilio Garcia Gómez meer jarcha's gevind, sodat die totaal sedert 1948 nou tot meer as vyftig gestyg het.

Die jarcha is gewoonlik 'n klaaglied wat 'n vrou uit die laer klasse vir haar afwesige minnaar sing. Dit is die laaste drie- of vierreëlige strofe van die muwashshah, 'n poëtiese vorm wat gebruik is deur Arabiese en Hebreeuse digters vanaf die 11de tot die 13de eeu. Die jarcha is geskryf in Mosarabies, 'n Romaanse taal wat gedurende hierdie tydperk deur die meerderheid van die bevolking gepraat is. Omdat sekere vokaalkarakters in die Arabiese- en Hebreeuse alfabet ontbreek, vind navorsers dit egter moeilik om die tekste te translitereer. Gebrek aan kennis van die taal bemoeilik ook interpretasie. Tog word dit nou algemeen aanvaar dat Mosarabies 'n Romaanse taal was wat direk uit Populêre Latyn ontwikkel het, en nie uit Kastiliaanse Spaans nie.

Voorbeeld van 'n jarcha

Vayse meu corachón de mib.

ya Rab, ¿si me tornarád?
¡Tan mal meu doler li-l-habib!
Enfermo yed, ¿cuánd sanarád?

My hart verlaat my
Ag God, miskien kom hy terug?
Hoe groot is my hartseer oor my geliefde!

Dit maak my siek, wanneer sal ek beter word?

Cantar de Mio Cid

[wysig | wysig bron]
Die Cantar de mío Cid, die vroegste bekende Spaanse cantar de gesta

Van die tekste wat in Kastiliaans oorleef het, is die middel-12de eeuse heldedig Cantar de Mio Cid die oudste. Die bestaande manuskrip is 'n onvolledige afskrif uit 1307. Omdat dit volgens navorsers redelik kort ná die dood van die historiese Cid geskryf moes gewees het, is die egtheid daarvan byna seker. Die tweede en derde dele van die Cantar de mío Cid is egter denkbeeldig en stem nie ooreen met die werklike geskiedenis van Granada nie. Die ses reëls wat konstateer dat die Cid Granada van die Moslems verower het, is fiktief.

Die Cid handel oor die Castiliaanse adellike, Rodrigo Díaz de Vivar (bekend onder sy bynaam Cid, van die Arabiese sidi, heer), wat koninklike guns geniet het. Dit is 'n relaas van sy veldslae, sy liefdesverhoudings en sy daaglikse lewe. Die digter wat dit geskryf het, bly onbekend. In plaas van rym, het hy assonansie en reëls van verskillende lengte gebruik, gewoonlik 14 lettergrepe. Die gedig self bestaan uit drie dele, genaamd cantos.

Mester de juglaría

[wysig | wysig bron]

Mester de juglaría ("Meester van die Minstreel") is 'n Kastiliaanse literêre genre uit die 12de en 13de eeue. Dit is 'n mondelinge vorm van literatuur wat deur minstrele (ook bekend as troebadoers of jongleurs) oorgedra word. Hulle het 'n bestaan in paleise en openbare plekke soos markte gemaak deur stories te vertel. Hierdie cantar de geste (sien die Franse chanson de geste) is berym om dit makliker te maak om te onthou. Vanweë mondelinge oorlewering is daar egter dikwels verskillende weergawes van hierdie verhale. In die praktyk het dit beteken dat hierdie cantar de geste nie deur een digter-sanger geskep is nie, maar geskep is deur storie-elemente by te voeg of te verander, sodat dit as ietwat van 'n kollektiewe werk beskou kan word.

In vergelyking met die Mester de clerecía, wat hieronder bespreek word, was die skrywers nie baie ontwikkeld nie. Die onderwerpe wat hulle gedek het, was meer gewild en die taal was eenvoudiger. Die metrum is ook meer onreëlmatig. Die bekendste voorbeelde van werke wat as Mester de juglaría geklassifiseer kan word, is El Cantar de Mio Cid en Representación de los Reyes Magos.

Mester de clerecía

[wysig | wysig bron]

Hierdie Kastiliaanse narratiewe poësie, bekend as die Mester de clerecía, het gewild geword in die 13de eeu. Dit is die versvorm wat die hoogs opgevoede digters gebruik het. Gewoonlik was dit geestelikes (vandaar die naam clerecía). Hierdie digters het die aantal lettergrepe in elke reël sorgvuldig getel en na perfeksie van vorm en uitdrukking gestreef. Hulle het 'n voorkeur getoon vir die aleksandryn ('n versreël met 14 lettergrepe), die konsonantrym en strofes van vier reëls elk. Hierdie vorm, wat tot die 14de eeu gewild gebly het, staan ook bekend as die cuaderna via of die viervoudige manier, en is uit Franse voorbeelde ontleen.

Gewilde temas van hierdie digters was Christelike legendes, die lewens van die heiliges en verhale uit die klassieke oudheid. Hierdie gedigte is ook op openbare pleine aan dorpenaars voorgedra. Wat hierdie vorm van die mester de juglaría onderskei, is die didaktiese bedoeling en die erudisie wat dit toon. Die Kastiliaanse priester en digter Gonzalo de Berceo was een van die grootste ondersteuners van die mester de clerecía. Al sy werke was godsdienstig. Die twee bekendstes is Milagros de Nuestra Señora (oor die wonderwerke van die Maagd Maria) en Vida de Santa Oria (Die lewe van Sint Oria). Die 14de eeuse digter Juan Ruíz, ook bekend as die Arcipreste de Hita (die aartspriester van Hita), het die versreël van 16 lettergrepe bekendgestel.

Prosawerk

[wysig | wysig bron]

Onder die beskerming van koning Alfonso X het ook geskiedskrywing in die volksmond gedy. Die Chrónica-general (Algemene kroniek) is onder sy toesig geskryf. Dit bestaan uit twee dele: die eerste deel, La General é grant historia, handel oor die universele geskiedenis vanaf die skepping van die wêreld tot die eerste Christelike eeue. Die tweede, La Crónica ó Historia de España (Die Kroniek of Geskiedenis van Spanje), handel oor nasionale geskiedenis. Daarna is 'n kroniek oor elke Kastiliaanse koning geskryf deur skrywers soos Pero Lopez de Ayala en Alvar Garcia de Santa Maria. Die oorwinnings van die Katolieke heersers Ferdinand en Isabella is beskryf deur Fernando del Pulgar en Andrés Bernáldez.

Benewens hierdie koninklike kronieke is biografieë van belangrike mense ook geskryf, soos die 15de eeuse kroniek oor graaf Pedro Niño deur Gutierre Diez de Games. 'n Vreemde reisboek is ook gepubliseer, wat vertel van die ervarings van 'n ambassadeur wat in 1403 deur Hendrik III van Kastilië na Timoer (ook bekend as Timoer Lenk, Tamerlane en Tamburlaine, ’n 14de-eeuse Turks-Mongoolse krygsheer en stigter van die Timoeridiese Ryk) gestuur is. Die skrywer van hierdie werk was die hoof van die sending, Ruy González de Clavijo.

Die ander Kastiliaanse prosawerke van die 13de en 14de eeue was hoofsaaklik didaktiese en bondige tekste, maar het ook illustrasies en verhale uit die Ooste bevat. Daar was byvoorbeeld 'n Spaanse vertaling uit Arabies van Kalila en Dimna uit die middel van die 13de eeu, en 'n volksballade oor die Sewe wyses (Sindibad). Baie versamelings van aforismes en morele lesse het ook in die loop van die 14de eeu verskyn: die Secretum secretorum (Die geheim van geheime) wat aan Aristoteles toegeskryf word, die versameling 'Proverbius buenos (Goeie spreekwoorde), die Bocados de oro (Goue Stukke), Libro de Bonium, (Boek oor Bonium, koning van Persië), Rey de Persia (Konings van Persië) en Libro de los gatos (Boek van die Katte).

Liriese poësie

[wysig | wysig bron]

Liriese poësie uit die Middeleeuse Spaanse letterkunde kan in drie groepe verdeel word: die jarcha, gewilde volksliedere wat deur gewone mense gesing is en die hoflike poësie van die adellikes. Libro de buen amor (Afr.: "Die Boek van Goeie Liefde")[1][2] [3][4] is 'n werk van die 14de-eeuse digter Juan Ruiz (of die Arcipreste [Afr.: aartspriester]). Dit is 'n raamvertelling waarby ingesluit is vertalings van Ovidius, satiriese stukke, miniatuur gedigte genaamd serranillas, 29 fabels, 'n preek oor Christelike wapenrusting asook verskeie liriese boodskappe aan die Maagd Maria. Met die digter Íñigo López de Mendoza, "die markies van Santillana" (1398-1458), begin 'n beweging wat wegbeweeg van Middeleeuse tradisies. Hy was vertroud met Latynse skrywers en die werke van Dante en Petrarca. Mendoza was ook die eerste om die sonnet in die Spaanse letterkunde bekend te stel. Hierdie Markies van Santillana verdien 'n plek in die 15de-eeuse letterkunde van Spanje nie net vanweë sy eie poësie nie, maar ook vanweë die ondersteuning wat hy aan baie skrywers van sy tyd gegee het en vanweë sy impuls om werke te publiseer deur skrywers wat uit die oudheid vertaal het.

Die laaste groot digter van die Middeleeue is Jorge Manrique. Hy is bekend vir sy Coplas a la muerte de su padre, 'n klaaglied oor die dood van sy vader.

Die Renaissance

[wysig | wysig bron]

Soos elders in Europa, het die Spaanse Renaissance hernieude belangstelling in die klassieke bronne veroorsaak, die opkoms van die hoflike-beskermheer ervaar en die vooruitgang van die wetenskap beleef. Sedert die tweede helfte van die 15de eeu was daar 'n merkwaardige kulturele uitruiling tussen Italië en Spanje. Die invloed van Dante, Petrarch en Boccaccio op die Spaanse letterkunde was duidelik, maar Spaanse literêre werke is ook in Italië gepubliseer of vertaal. Dit het byvoorbeeld gebeur met die poësie van Jorge Manrique en Iñigo López de Mendoza, en met populêre romans, kersliedere, ens. Ander belangrike digters van die Renaissance was Garcilaso de la Vega en Juan Boscán. Onder die skrywers van godsdienstige literatuur was daar Luis de León, Johannes van die Kruis en Theresa van Ávila. Belangrik vir Renaissance-prosa was die prenteroman La vida de Lazarillo de Tormes (Afr.: Die lewe van Lazarillo de Tormes), deur 'n anonieme skrywer.

Die taal in hierdie tydperk word gekenmerk deur natuurlikheid en eenvoud. Woordeskat en sinstruktuur word doelbewus eenvoudig gehou. Dikwels herhalende temas is: die liefde; begrip vanuit die platoniese oogpunt; natuur, wat op 'n idilliese wyse beskryf is; en heidense mitologie wat besin oor die geskiedenis van die gode en die vroulike skoonheid.

Die Goue Eeu

[wysig | wysig bron]

Die Goue Era van Spanje, el Siglo de Oro, strek oor etlike eeue. Die aanvang begin in die jaar 1492. Dit is die jaar waarin die Reconquista voltooi is. Die Goue Eeu eindig in die jaar 1681. Dit is die jaar waarin die skrywer Pedro Calderón de la Barca sterf.

Poësie

[wysig | wysig bron]

Prosa

[wysig | wysig bron]

Teater

[wysig | wysig bron]

Die verligting

[wysig | wysig bron]

Drie fases word in die Spaanse literatuur van die 18de eeu onderskei:

  • Anti-Barok (ongeveer tot 1750): dit kan beskou word as 'n weerstand teen die styl van die laat-Barok, wat as te retories en verwronge beskou is.
  • Neo-Klassisisme (tot die einde van die 18de eeu): dit is sterk beïnvloed deur die Franse en Italiaanse klassisisme. Die skrywers boots ook die antieke Griekse en Romeinse klassieke na.
  • Pre-Romantiek (laat 18de en vroeë 19de eeu): weerstand teen die streng reëls van klassisisme onder die invloed van die Engelse filosoof John Locke, saam met dié van die Franse Étienne Bonnot de Condillac, Jean-Jacques Rousseau en Denis Diderot. Die klem val op die reg van individue om hul persoonlike emosies uit te druk.

Hierdie beweging kondig die verval van neo-klassisisme aan en maak die deur oop vir die Romantiek.

Poësie

[wysig | wysig bron]
  • Juan Meléndez Valdés
  • Tomás de Iriarte
  • Félix María Samaniego

Prosa

[wysig | wysig bron]
  • Fray Benito Jerónimo Feijoo
  • Gaspar Melchor de Jovellanos
  • José Cadalso

Teater

[wysig | wysig bron]
  • Leandro Fernández de Moratín
  • Ramón de la Cruz

Die Romantiek

[wysig | wysig bron]

In reaksie op die rasionalisme van die Verligting, beklemtoon die 19de-eeuse Romantiek sterk emosie as 'n bron van estetiese ervaring.

Belangrike syfers:

Poësie

[wysig | wysig bron]

Eerste periode, tot ongeveer 1850:

  • José de Espronceda
  • Carolina Coronado
  • Juan Arolas
  • Nicomedes Pastoor Díaz
  • Gertrudis Gómez de Avellaneda
  • Pablo Piferrer

Tweede periode, beïnvloed deur Heine se poësie, vanaf ongeveer 1850:

Prosa

[wysig | wysig bron]

Teater

[wysig | wysig bron]
  • Ángel de Saavedra, of die "Hertog van Rivas" (Don Álvaro o la fuerza del sino)
  • Francisco Martínez de la Rosa (La conjuración de Venecia)
  • Antonio García Gutiérrez (El Trovador)
  • Juan Eugenio Hartzenbusch (Los amantes de Teruel)
  • José Zorrilla (Don Juan Tenorio)
  • Bretón de los Herreros (Muérete y verás)

Realisme

[wysig | wysig bron]

In die middel van die 19de eeu het die romantiek sy hoogtepunt bereik en 'n nuwe literêre beweging het in Europa ontstaan: realisme.

Die term "realisme" is vir die eerste keer in 1850 in verband met die skilderkuns gebruik. Later is dit deur die letterkunde oorgeneem, waar dit hoofsaaklik op die roman toegepas is. Die houding van die realistiese skrywer is analities en krities, gewoonlik met die doel om die werklikheid objektief te beskryf. Baie belangrike 19de-eeuse romans het 'n sosiale karakter, sodat die skrywers hulself blykbaar profileer as die "kroniekskrywers" van die tyd waarin hulle leef.

Poësie

[wysig | wysig bron]
  • Ramón de Campoamor (Humoradas, Doloras)
  • Gaspar Núñez de Arce (Gritos del cobate, La duda, Un idilio)

Prosa (romans)

[wysig | wysig bron]
  • Juan Valera (Pepita Jiménez, Doña Luz, Juanita la Larga)
  • José María de Pereda (Don Gonzalo de la Gonzalera, De tal palo tal astilla, en sy meesterstuk Peñas arriba)
  • Pedro Antonio de Alarcón (El escándalo )
  • Benito Pérez Galdós (Fortunata y Jacinta)
  • Emilia Pardo Bazán (Un viaje de novios)
  • Luis Coloma (Pequeñeces )
  • Leopoldo Alas (La Regenta en Su único hijo)
  • Armando Palacio Valdés (La monja de San Sulpicio)
  • Vicente Blasco Ibáñez (Los cuatro jinetes del apocalipsis, Arroz y tartana, La barraca )

Teater

[wysig | wysig bron]
  • Adelardo López de Ayala (El tanto por ciento )
  • Ventura de la Vega
  • Enrique Gaspar (Las personas decentes)
  • Benito Pérez Galdós
  • José Echegaray (El loco dios )
  • Manuel Tamayo y Baus (La locura del amor)
  • Leopoldo Cano (La Pasionaria, La mariposa)

Modernistiese literatuur

[wysig | wysig bron]

In Modernisme kom verskeie strominge voor: Parnassianisme, Simbolisme, Futurisme en Kreasionisme. Literêre modernisme in Spanje is beïnvloed deur die "ramp van '98", "Regenerasionisme" en die Institución Libre de Enseñanza (gestig deur Giner de los Ríos). Modernisme is gewortel in die idee dat "tradisionele" vorme van kuns, letterkunde, godsdienstige geloof, sosiale organisasie en die daaglikse lewe verouderd geraak het"; en daarom is dit noodsaaklik om afstand daarvan te doen. Die intellektuele beweging wat objektief en wetenskaplik gedink het oor die oorsake van die dekadensie van Spanje as 'n nasie tussen die 19de en die 20ste eeu, word "Regenerasionisme" genoem. Dit spreek 'n pessimistiese oordeel oor Spanje uit. Die regenerasie-intellektuele het hul studies in joernale met 'n groot verspreidingsnetwerk bekend gemaak, sodat die beweging uitgebrei het. Sommige belangrike modernistiese skrywers is Salvador Rueda, Juan Ramón Jiménez, Miguel de Unamuno en Rubén Darío.

Veral van belang in hierdie opsig is die digter en dramaturg Lorca (1898–1936), een van die belangrikste figure van die moderne Spaanse letterkunde. Sy Andalusiese agtergrond, veral sy belangstelling in die folklore van dié streek, kom sterk na vore in sy werk.

Lorca het gedigte, toneelstukke, poppespele sowel as musiek geskryf. Hoewel hy in sy letterkundige werk die volkstaal gebruik het, is 'n element van poësie deurgaans, ook in sy prosa, aanwesig. Lorca het baie inspirasie uit die volkstradisies van Andalusië geput en het ook direkte kontak met die folklore van dié streek gehad. Sy eerste digbundel, Verseboek, het in 1921 verskyn, gevolg deur Liedere (1927).

In Sigeunerballades (1928) en Gedig van die diepe sang (1931) beskryf hy byvoorbeeld die misterieuse sigeunersangkuns. Sy poësie word gekenmerk deur aardse beelde en ritmiese verse wat 'n mens aan kinderliedjies herinner en waarin simboliek en die dood dikwels as tema voorkom.

In 1935 het een van sy beroemdste gedigte verskyn: Klaaglied vir Ignacio Sánchez Mejfas, 'n vierdelige elegie oor die dood van 'n stiervegter. 'n Afrikaanse vertaling van die gedig deur Uys Krige is opgeneem in sy bundel Vir die luit en die kitaar (1950). Ná 'n besoek van Lorca aan die VSA het twee bundels, Digter in New York (1935) en Eerste liedere (1936), verskyn.

Lorca se bekendste dramas is die trilogie Bloedbruilof (1933), Yerma (1934) en Die huis van Bernarda Alba (1936). Laasgenoemde 2 tragedies se Afrikaanse vertalings deur Uys Krige het in onderskeidelik 1963 en 1980 verskyn. Dit is baie dramatiese werke waarin die karakters, veral die vroue, in 'n konflik tussen liefde en menslikheid enersyds, en die sosiale norme andersyds, hul instinktiewe, byna dierlike hartstogte uitbeeld. Die doodselement is ook hier sterk aanwesig.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Kryzskowska-Pawlik, Rosanna; Palka, Ewa; Stala, Ewa (Oktober 2011). "Juan Ruiz, Arcipreste de Hita: Libro de Buen Amor, la obra maestra del Medioevo español". In Eminowicz-Jaśkowska, Teresa (red.). La Edad de Plata del hispanismo cracoviano. Textos y contextos [Die Silwer Era van Spaanse Studies in Krakau. Tekste en kontekste] (PDF) (in Spaans). Vol. 10. Jagielloniese-universiteit. pp. 239–253. doi:10.12797/SI.10.2011.10.18. ISSN 2082-8594.
  2. "Libro de buen amor, de Juan Ruiz, arcipreste de Hita". Real Academia Española (in Spaans). Besoek op 18 September 2018.
  3. Pérez Priego, Miguel Ángel. "Arcipreste de Hita. El autor y su obra". Biblioteca Virtual Miguel de Cervantes. Fundación Biblioteca Virtual Miguel de Cervantes. Besoek op 18 September 2018.
  4. "Die Boek van Goeie Liefde" (Spaans: El libro de buen amor) word as een van die meesterstukke van Spaanse poësie beskou, en is 'n pseudo-biografiese weergawe van romantiese avonture deur Juan Ruiz, die aartspriester van Hita, waarvan die vroegste weergawe uit 1330 dateer; die skrywer het dit voltooi met hersienings en uitbreidings in 1343. Die werk word beskou as die beste stuk in die Middeleeuse genre bekend as mester de clerecía. Die boek begin met gebede en 'n gids oor hoe om die werk te lees, gevolg deur stories wat elk 'n morele en dikwels komiese verhaal bevat. Die boek bevat 'n heterogene versameling stukke bestaande uit 'n groot verskeidenheid materiaal wat verenig is rondom die beweerde outobiografiese vertelling van die liefdesverhoudings van die skrywer, wat in 'n deel van die boek deur die episodiese karakter van Don Melón de la Huerta verteenwoordig word. In die boek word alle lae van die laat-middeleeuse Spaanse samelewing verteenwoordig. Fabels en apologieë word deur die loop van die hoofargument afgewissel, wat 'n versameling voorbeelde uitmaak. Net so kan mens allegorieë, moraliteite, preke en liedere deur blindes en deur Goliardiese (Die Goliarde was in die laat-Middeleeue rondloperstudente en -geestelikes.) skoolleerders vind. Wêreldse liriese komposisies (serranillas, dikwels parodieë, afgelei van die pastorelas) word ook saam met ander godsdienstiges tekste ingesluit, soos gesange en koeplette aan die Maagd Maria of Christus. Die narratiewe materiaal is gebaseer op die parodiëring van Middeleeuse elegiese komedies in Latyn uit 'n pseudo-Ovidiaanse-skool opset, soos De vetula en Pamphilus, waarin die skrywer die protagonis is van liefdesavonture wat afgewissel word met gedigte wat met hom of haar verband hou. Pamphilus word ook in die "Die Boek van Goeie Liefde" aangehaal as die basis vir die episode van Don Melón en Doña Endrina. Benewens materiaal afkomstig van Ovidius se Ars Amatoria, parodieer dit ook die liturgie van die kanonieke eposse. Ander genres wat in die boek gevind kan word, is planhz (Die planh of plaing (Oudoksitaans [ˈplaɲ]; "klaaglied") is 'n genre van die troebadoere, en is 'n begrafnisklaaglied vir "'n groot persoonlikheid, 'n beskermer, 'n vriend of familielid of 'n dame." Die hoofelemente daarvan is die uitdrukking van hartseer, lof van die oorledene (lofrede) en gebed vir sy of haar siel. Dit stam van die Middeleeuse Latynse planctus af.), soos Trotaconventos se dood, 'n karakter wat die duidelikste presedent vir La Celestina of satire uitmaak, soos dié wat gerig is teen vroulike eienaars of die gelykmakende krag van geld; of fabels, uit die Middeleeuse esopiese tradisie of pedagogiese handleidings, soos Facetus, wat romantiese opvoeding as deel van die menslike leerproses beskou. Alhoewel Arabiese bronne voorgestel is, is teenswoordige kritiek dit eens datDie Boek van Goeie Liefde afstam van Middeleeuse geestelike Latynse literatuur.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Rolena Adorno: Colonial Latin American Literature: A Very Short Introduction, Oxford University Press, VSA, 2011
  • Eugenio Florit: Introduction to Spanish Poetry, Dover Publications, 2012
  • Jo Labanyi: Spanish Literature: A Very Short Introduction, Drukpers van die Universiteit van Oxford, 2010
  • Encyclopædia Britannica 15de uitgawe: Spanish literature'